
Hierdie resep dra ons op aan Ouma (Nie die boks-ouma nie). Ouma het nou maar eenmaal die allerlekkerste beskuite vir Marésa op universiteit gebak. Dit was altyd die beste om by Marésa te gaan koffie drink toe ons nog uitgegaan het - want sy't altyd 'n goeie voorraad van Ouma se gesondheidsbeskuit, of karringmelk beskuit, of watter beskuit ookal gehad!
Die resep is hond maklik, ons het gereken ons sal soos in 'n goeie resepteboek vir julle wys hoe die deeg moet lyk :)). Hehehe nee eintlik was ons maar net so bietjie verspot. ;)
Bestandele
6 koppies meelblom
2 eier, geklits
Karringmelk / suurmelk, omtrent 1/2 liter
6 teelepels (hoogvol) bakpoeier
1 koppie suiker
250 gm margarien
'n knippie sout
Metode
Vryf die margarien in die meel, bakpoeier en suiker met vingerpunte. Voeg die eiers by. Maak aan met karringmelk en knie 'n bietjie:
As die deeg goed lyk (so bietjie taai maar nie te nat nie), en jy kry daai, "Jip ek like my handewerk gevoel"...

... dan weet jy dis tyd. Maak bolletjies en pak in gesmeerde panne. Laat staan die panne vir ongeveer 15 minute.
Bak vir een uur by ongeveer 165 grade Celsius.
Breek / sny, en droog uit (uitgepak op foelie, blink kant na bo) by 120 grade Celsius vir 1 na 2 ure. Hier moet jy maar omdraai en kyk tot dit hard genoeg is.
Hierdie resep vanuit "Knuppeldik aan Koningskos".