Enigste ou dingetjie wat hierdie andersins baie opwindende naweek bietjie "bumpy" gemaak het is ek het die huurmotor gestamp :((. Ek het dit net gekry Vrydagmiddag en het by die lig gestaan en wag om te ry, toe die ou voor my wegtrek. Ek dag die lig het groen geword (ek kon nie die lig sien nie - ek was te ver terug), en haal my voet toe van die briek af (die kar was outomaties), wel, op daardie oomblik vlieg 'n besie in wat ek etlike oomblike gelede van die deur af geskiet het omdat hy in die kar wil inklim weer terug in die kar in en ek probeer hom uitwaai toe ek 'n slag hoor. Toe sien ek ek het die ou voor my getref. Ag toggie. Glad nie ernstig nie, maar dit was natuurlik net 'n bietjie van 'n pyn om al die dingetjies uitgewerk te kry. Ek het boonop 'n $40 kaartjie gekry vir "Inattentive Driving"!! Daar het ek toe ook nou my eerste ongeluk gehad. Ek is net dankbaar dit is nie ernstig gewees nie, die omie in die ander bakkie was ook glad nie moeilik nie. Hy het eintlik baie min gepraat, in die begin was ek bang hy het dalk aan skok gely of iets maar later toe lyk dit meer vir my hy is maar net baie stil. :)) Dit was 'n werksbakkie gewees so miskien is dit daaroor dat hy nie eintlik so kwaad was nie, ek weet nie. Ek het net soos 'n brood gevoel, aai. Dit het ons toe natuurlik met 'n uur of wat vertraag Vrydagaand want toe ry ons eers so 7:30 se kant in plaas van die beplande 6:00. Nou ja, soos ek se, dit was dan 'n klein ongelukkie om my weer terug te bring na meer versigtige bestuursgewoontes!
Nou ja, ons het Vrydagaand opgery na Syracuse, New York. Daar het ons die aand in 'n kampeerterrein in 'n "cabin" geslaap. Dit het baie goed uitgewerk. Ons het daar aangekom seker so 12:30am Vrydagnag. Prachi het vir ons aandete gemaak, baie lekker Indiese kos, en ons het dit oppad soontoe by 'n rusarea genuttig:

Dit was nie regtig koud nie, al sien ek ons almal het lang klere aan! Mensdom. Maresa het koud gekry, sy kry mos baie maklik koud, maar ek het eintlik net my baadjie aangetrek omdat ek nie iets anders gehad het om met hom te maak nie, en hom nie iewers wou neersit nie. :) So dit is dan nou Prankul en Prachi saam met wie ons die naweek gegaan het. Prachi is so so Indies soos wat mens hulle kry. Een ding wat ons van die twee geleer het die naweek is hulle eet soos masjiene, ongelooflik. Die hele hele tyd in die kar gesit en snack en dan met elke ete eet hulle meer as ons. Ongelooflik! Hehehe. Anyways, hier is ons roete op tot by Syracuse. Dit is omtrent 'n 5 uur rit as mens nie stop nie.

Die Falls sit reg daar by Buffalo, die rivier wat die Falls vorm vloei na die Noordelike meer, dit is Lake Ontario. Daardie rivier vorm ook die grens tussen Kanada en die USA. So die Falls is deel van water wat uit Lake Erie uit vloei na Lake Ontario toe. Dit is nie so 'n ver pad nie, daar is eintlik net baie berge in Pennsylvania wat mens moet oorkom. Maar anders is dit regtig 'n aangename rit hoor, dit was so mooi langs die pad. Orals is dit so 'n lowergroen dig beboste omgewing en baie van die paaie loop langs die rivier.
Ons het die volgende oggend na ons opgestaan het tot by Niagara gery, dit is nog 3 ure van Syracuse af. Daar gekom het ons middagete sommer van die kattebak af genuttig voor ons die valle aanpak:

Julle kan sommer sien watter kar ons gehuur het ook. Dit is 'n Chevrolet Malibu. 'n Groterige kar met 'n 3.1 liter V6, maar ek het regtig nie eintlik van hom gehou nie. Miskien was dit maar omdat ek en die kar 'n ou bietjie van 'n episode gehad het die Vrydagaand, ek weet nie. Anyways. Nou by die valle! Daar is drie groot valle, by Niagara Falls, die American Falls, die Bridal Falls en die Horseshoe Falls. Die American en die Bridal Falls is aan Amerika se kant en die Horseshoe Falls vorm 'n hoef wat ook die grens definieer tussen Amerika en Kanada. Hier staan ons langs die American Falls en kyk in die rigting van die Horseshoe Falls. Julle kan die horseshoe falls daar in die agtergrond sien. Kyk ook hoe maak dit so 'n mis daar agter as gevolg van al die water wat val. Ek wens mens kon die grootheid daarvan op film vasvang, maar dit is regtig moeilik om te verduidelik. Dit is genuine indrukwekkend. Nou nou as daar mense daar onder rondloop en mens kan hulle sien dan sal julle ook 'n beter idee kry.

Hierdie een wys nou net die American Falls en die Bridal falls. Die Bridal Falls is die kleintjie daar aan die agterkant wat eintlik lyk of dit deel is van die American Falls. Mens kan mense daar onder sien loop, almal het sulke blou jassies aan, julle sal netnou sien hoekom ;) Dit is so mooi - daai massa water wat hier aan duskant so opgeskiet word deur 'n rots of 'n ding.

Ek en Maresa moes darem 'n foto van ons kry voor die Falls:

Julle kan sien hier bo daar heel regs onder rond in die hoek van die foto in die rivier is 'n boot, wel dit is die "Maid of the Mist", dit is 'n boot waarin hulle so naby as wat die boot maar kan kom aan die Horseshoe Falls vat. Dit is ongelooflik, want hulle neem jou in daai misreen in wat gevorm word deur die Horseshoe Falls. Later meer daaroor. Hier is nog 'n foto van die bote, kyk net na die ongelooflike kleur van die water. Die water is so helder en skoon, ons kon dit nie verstaan nie want daar moet tog baie industrie daar rond wees, en tog is dit so mooi:

Die USA kant en die Kanada kant het altwee sulke bote. Maar ons was bly ons het aan die USA kant se bote opgeklim, want die Kanada kant is baie meer gewild (omdat jy vanaf die ander oewer 'n vooraansig van al die valle as 'n geheel het) en daar is dus baie meer mense - met die gevolg is hulle pak daai bote vir jou PROPVOL hoor. Die USA kant is ook baie besig, maar die bote is nie naastenby so vol gepak nie. Mens gaan op 'n brug uit wat 'n hysbak in het waarin mens afgaan tot onder by die rivier en dan klim jy in die bote. Hierdie foto hier onder staan ons in die ry en wag om op die bote te gaan. Die groot probleem is nie juis om op die boot te kom nie, dit is veel eerder om op die hysbak te kom om onder te kom! Dit is die enigste manier waarop mens onder kan kom ook. Mens kan so ietwat van 'n idee kry met hierdie foto van hoe hoog die valle is. Nogals hoog. ;) Daar is 'n dorpie "Niagara Falls" aan altwee kante van die rivier, so Niagara Falls, USA en Niagara Falls, Kanada. Dit is eintlik maar toeriste dorpe, daar is 'n Planet Hollywood en casino's en goete daar in die agtergrond aan die Kanada kant. Dit was 'n pragtige dag gewees hoor, perfek vir wat ons gedoen het. Dit was nie te warm gewees nie, en net liggies bewolk.

Hier is nou nog 'n foto vanaf die brug wat die pad na Kanada toe wys. Ons kon natuurlik nie daardie pad ry nie, ons het visa's nodig om in Kanada in te gaan. Dan het my Amerikaanse visa ook nou verstryk so ek sou nie weer terug in Amerika kon inkom as ek eers uit was nie! Ek moet een of ander tyd die ding gaan laat hernu. Maar dit is nie ernstig nie, solank ek nie uit die land wil uitgaan nie. Kyk weer die besonderse kleur van die river ne.

As mens op die boot klim dan gee hulle vir jou so 'n blou plastiek "poncho" wat jy kan aantrek om droog te bly vir wanneer jy naby aan die valle kom. Dit is regtig nodig want jy word sopnat hoor. Hier worstel die twee P's om hulle s'n aan te kry.

Maresa het bietjie opgesien na die natwordery en was nie lus vir koudkry nie. So sy het haar behoorlik toegestrap, ek het gereken sy lyk so snaaks ek moet 'n foto van haar ook neem! Die poncho's is eintlik oulik daar is so 'n mooi prentjie voor op wat se "Maid of the Mist, a World Class Attraction since 1876". Al lank wat hulle dit doen ne!

Nou op die boot het ek die valle weer afgeneem (ek het baie foto's geneem). Kyk die mense wat daar in die linkerkant oploop om naby aan dit te probeer kom. Hulle het nog almal hulle blou ponchos aan van die Maid of the Mist trippie.

Hier is nou 'n mooi foto wat die hele American Falls mooi wys:

'n Bietjie verder aan, die Bridal Falls ook. Nou kyk al die mense wat met die geel jassies daar rondloop. DAAR is nou vir jou die hoogtepunt van die Niagara Falls trippie hoor. Ek sal later meer daaroor vertel. Dit word genoem die "Cave of the Winds".

Ons kon nou nie die Horseshoe Falls mooi sien van die Kanada kant af nie, maar dit is nie bad nie, want ons het dit ervaar vanaf die boot af. Dit is ongelooflik hoor.

Die boot begin hier teen die stroom van die water te beur om nader te probeer kom en hy begin al hoe stadiger nader kruip. Die horseshoe Falls is die grootste van die drie en by verre die mees indrukwekkende.

Ek het probeer wag dat die vlaggie wat daar bo in Kanada staan mooi waai sodat ek die Kanada vlag kan inkry, maar die boot het begin omdraai en ek moes die foto neem! Teen hierdie tyd is mens al goed nat hoor. Ek het die kamera heeltyd onder my poncho gehou en hom dan net vinnig uitgebring om die foto te neem.

Hier is ons nou weer oppad terug. Daardie ballon daar is 'n helium ballon wat so groot is dat hy 'n moewiese mandjie het wat hulle mense in opvat. Hy is met 'n lang kabel aan die grond vas wat hulle inkatrol om die mense weer af te bring. Hehehe, ek wonder darem waar daai mense sal opeindig as daai kabel moet snap hoor. Ek weet ook nie eintlik wat mens van daai kant af kan sien nie, dit is seker maar meer net om in die ballon te kan opgaan dat mense dit doen.

Hier is ons weer terug op land en het daar by die paadjie wat vroeer op die foto's was langs opgeloop tot so naby aan die valle as wat ons kon. Dit was nie regtig baie nat hier nie, as die wind reg waai natuurlik. As die wind omdraai waai dit al die mistige sproei oor mens en jy word sommer vinnig papsopnat. Maresa lyk darem te pittig met daardie blou sakkie aan he?

Weer terug op die brug het ek hierdie foto geneem van die Kanadese dorpie Niagara Falls. Die toring aan die regterkant is 'n restaurant waar mens kan gaan sit en eet. Natuurlik HOND duur, as mens die view ingedagte hou. Die restaunt draai ook in die rondte, een omwenteling per minuut. Wat vir my cool is van die toring is die hysbak, wat so 'n kapsuletjie is wat aan die BUITEKANT van die toring opgaan. Dit moet nou vir jou 'n prettigheid wees om in daardie kapsule op te gaan hoor! (Miskien sien julle dit, so 'n geel strepie omtrent halfpad langs die toring op).

Vanaf die Maid of the Mist het ons toe besluit om daai Cave of the Winds te gaan aanpak. Dit was nou vir jou 'n pretspul. Oppad soontoe loop mens oor die rivier, wat teen hierdie tyd in alle erns na die valle toe voortvaar. Imagine jy's 'n vissie wat vir 'n agtermiddag stroll bietjie in die spesifieke geweste gaan rondkarjakker het, net om skielik meegevoer te raak en as weer wakker word swem jy iewers in die vreemde waters van Lake Ontario rond! Maar dan weer, jou Ma sou jou sekerlik gewaarsku het as vissie-kind om nie in naby daai deel te kom nie. Jitte, dit is 'n one-way ticket hoor.

Nou kyk nou net, in voorbereiding vir die Cave of the Winds moet jy jou skoene ingee dan gee hulle vir jou hierdie flops tipe van materiaal goeters wat jy om jou voete moet vasbind. Jy kry ook 'n papnat deurdrenkte reenjas om aan te trek. Hoekom weet ek nie. Maresa was baie voorbereid en in haar nimmereindige stryd teen die koue het sy haar eie reenjas saamgebring. Maar sy het vir veiligheid nogsteeds die gele bo-oor aangetrek. So sy was goed voorbereid. Die res van ons het nat geword van die reenjas, en later natuurlik weer nat geword... Al wat vrou is vra vir Maresa waar sy die reenjas gekry het wat sy aan het. Kyk mooi vir daai donkerbril wat op my hoed is, dis die laaste keer wat julle (en ek) dit sien... Ja, ek het 'n goedkoop donkerbril gekoop om saam te neem. Ok maar 'n goeie ding, want ek het dit in die sak van die reenjas gebere vir die verloop van die Cave of the Winds trippie. En natuurlik, dit daarin vergeet. Ek weet, ek weet...

Mens gaan in 'n ander skag af met 'n hysbak en loop dan in 'n tonnel wat iewers in die laat 19de eeu gebou is onder die kant van die wal uit tot op 'n paadjie wat so met hout gebou is. Hierdie onderste foto gee mens nogal 'n goeie perspektief op die ongelooflike massas water wat hier afstorm. Die valle aan die regterkant is die Bridal valle, die kleinste van die drie ne. Die groen sign op die heel boonste van die houtstellasies lees "Hurricane Deck". Dis wat dit is! Dit was verreweg die mees amazingste oomblik van die hele trip hoor. Jy staan reg in die sproei van die valle as dit van die eerste rots afskiet. Ek kon net nie daar wegkom nie. Ek het gestaan en gestaan en gestaan. Dit was so so lekker. Dit voel letterlik asof jy in 'n tropiese storm staan met hael wat jou van agter af peper soos die waterdruppels jou tref. Unbelievable. Jy word deurdrenk en maak eerstehands kennis met 'n mikro-fraksie van die krag agter al hierdie water. Dis dan wanneer jy besef jy wil liefs nie met 'n kajak of iets daar afgaan nie...

Ek dink hierdie twee foto's se volgorde moet omgeruil word. Ek het in elk geval die onderste een geneem om al die sproei te wys. Die wind wat die valle maak is ook totaal anders daar onder as erens anders. Dit is regtig nice. Jy kan niks hoor nie behalwe die massiewe donderding van die valle. Wat vir my ook vreeslik interessant was, is dat die water so oneweredig vloei hoor. Dit is nie een oomblik dieselfde nie. Een oomblik is die hout waarop jy loop droog, die volgende oomblik is dit asof iemand 'n trok vol water op die dek uitgooi. Dis 'n stochastiese storm wat in ryke harmonie 'n simfonie tot lof van die Skeppende Komponis basuin. Ongelooflik.

Na Niagara Falls het ons langs die rivier opgery na Lake Ontario om na 'n Fort daar te gaan kyk. P&P het egter toe al genoeg gehad en wou nie daarheen gaan nie, ek was nogals hartsteer want ek wou genuine na die fort gekyk het, dit sit op die oewer reg op so 'n strategiese plek hoor, en dit is so smart ontwerp. Oh well, ons sal seker een of ander tyd weer soontoe gaan. Ons het toe ons voete bietjie in Lake Ontario gaan druk. Mens kan op die horison aan die anderkant van die meer Toronto sien, waar die Canada Tower is. Dit is die hoogste toring in die wereld. Dit reis oor die horison uit. Dit kom egter nie op die foto hier onder uit nie, dit is bietjie deinserig... Ek het die twee bietjie gewys hoe om klippies op die water te laat hop en was baie beindruk met my pogings. :)) Ons het daarna so bietjie verder nog klippies opgetel, ek het so mooi wit klippie gekry waarop ek "Ontario" geskryf het en hom in die sakkie in my hoed gebere het as aandenking.

Nadat ons aandete genuttig het in die pragtigste klein dorpie genaamd Lewiston aan die oewer van die rivier, het ons teruggekom om te sien hoe hulle die valle in die aand verlig. Ek het so paar foto's geneem daarvan. Dit is regtig mooi in die aand hoor! Hier is die Kanada Niagara Falls. In die aand moet die valle baie mooi van die Kanada kant af wees, want daardie groot spotlights sit aan die Kanada oewer, so dan moet jy dit reg van voor af sien, maar hier in hierdie geval skyn die lygte so bietjie in jou oë... Kyk hoe smart is die toring verlig.

Nou vir die valle. Is dit nie pragtig nie? Hierdie foto's is vir my so mooi. Omdat die lens so lank oopbly om genoeg lig in te bring, maak dit dat die water sulke strepe vorm omdat dit vloei. Dit is so 'n mooi effek.

Die ligte verander ook die heeltyd van kleur. Hier is geel vanuit 'n ander hoek. Die wit spikkels het nou later bygekom toe ek die foto gescan het.

Die rapids wat lei na die valle toe word ook met groot spotlights vanaf die oewer af verlig:

Hier is die rapids weer, die keer na die kant van die watervalle toe. Die vorige foto het ek stroom-op geneem. Dit lyk of daar iemand daar regs in die water sit ne, maar dis eintlik net 'n rots ;).

Daai helium ballon wat die mense in opgaan word ook in die aand verlig. Maar hy word van binne af verlig so dit lyk soos 'n massiewe gloeilamp wat in die lug hang. As mens vinnig kyk sal jy dink dis die maan, maar dan sal jy wonder hoekom al daai mense die maan in 'n net gaan vang het om aarde toe te bring.

Ons het eers baie laat teruggekom by Syracuse Saterdagnag. Omdat dit so laat eers donker word (eers hier by 10:00) se kant, kon ons eers baie laat vanaf die valle af terugry, ons wou dit so graag in die aand sien! Maar dit was regtigwaar die moeite werd! Sondagoggend het ons toe die eerste keer die kampterrein se kantoor oopgekry (die ander tye wat ons daar was was dit of voor of na kantoorure :)). Hierdie is die houthutjie waarin ons gebly het: dit is nou tydens ontbyt Sondagoggend:

Ons is toe van daar af terug langs 'n ander pad, 'n pad wat as ma-hulle hier kom kuier ons VERSEKER gaan ry! Dit is al langs die "Finger Lakes" af. Die Finger Lakes is 'n reeks van seker so 5 mere wat parallel aan mekaar le in New York. Daar is wynplase al langs die meer af, en mens kan orals stop om wyn te proe! Ons het daar by die een plek gestop en toe 'n bottel wyn gekoop, wat nogals lekker was (eintlik is dit maar al wat ons kon bekostig), maar ek kan nou nie meer onthou wat die wyn se naam is nie. Dit is 'n rooiwyn maar van 'n druif wat ek nog nie vantevore van gehoor het nie. Die druif is glo in die begin van die vorige eeu gekweek maar is vernoem na 'n Franse kommandeur van die Eerste of Tweede Wereldoorlog. Sal by die huis gaan kyk wat dit is. Hier lyk ek kwansuis of ek pas baie meer as een wynplaas besoek het:

By Watkins Glen het ons vir so 'n uur of wat gestop en gaan stap langs hierdie natuurlike "gorge". Dit is baie mooi daar ook:

Hier staan ek en Maresa op die trappies wat langs die rots oploop, al langs die riviertjie op.

Daar is so klein watervalletjie daar ook. Ek wou net weer probeer om so 'n foto te neem waar die water gesmeer word deur die lens langer oop te hou. Dit lyk mooi ne?

Hier is ek en Maresa nou by daai selfde watervalletjie. Sjoe kyk teen die tyd is ons al moeg naweek gehou. Dit was darem maar 'n besige twee dae hoor! Ons het 1000 myl gery, dis 1600km in die 48 uur (ek dink egter nie dit kom naby Cobus se rekords nie). Die snaakste was toe ons Prankul en Prachi aflaai 10:00 se kant Sondagaand, toe is ek en Maresa so dik van al die eetgoed in die kar ons wil net niks van kos weet nie. Wel, die volgende dag toe ek met Prankul praat toe verneem ek hulle het toe eers aandete gemaak toe hulle by die huis gekom het. Weird! My hare is so deurmekaar hieronder omdat ek heeldag 'n hoed gedra het Ma, so Ma hoef nie bekommerd te wees nie hoor ;), ek kam my hare. :))
