
Museum of Natural History, Little Italy, Lower Manhattan
Statue of Liberty
World Trade Center, 5th Avenue, Times Square
Financial District, Metropolitan Museum of Art
Ons het baie lank gewonder oor of ons die World Trade Center besoekie moet stuur of nie. Uiteindelik het ons besluit om dit te los soos ons dit geskryf gehad het voor alles gebeur het. Dit is tog wat ons ervaring was. Dit maak mens ook baie meer hartseer as mens dit alles weer sien en lees en jy dink daaraan dat daar vandag 5,000 mense onder daardie rommel le. Op 'n manier moet ons dit vergeet, maar ook, ons mag dit nooit vergeet nie. Ons mag nooit vergeet watter lewe ons gehad het voor 11 September 2001 nie. Daarom, as 'n tipe van 'n huldeblyk aan die ongeskondheid van ons bestaan voor daardie datum, het ons dit goedgedink om die foto's en alles wat ons daaroor te sê gehad het net so te los. Ons moet terugkeer na normaal toe, maar ons kan nie meer wees soos ons vroeer was nie, ons kan nie net voortgaan met ons lewens asof niks gebeur het nie. Die gemeenskaplike kennis en ervaring van ons totale samelewing moet deur daardie dag verryk wees. Indien nie, raak ons maar weer oor 'n maand stomp in ons harte vir mense se lyding, raak ons weer koud en hard teenoor die uitwerking van die sonde in hierdie wereld. Maar oor 'n maand het die kinders wat vandag sonder ouers sit, die huweliksmaats, die vriende, neefs en niggies, die broers en susters en seuns en dogters, kleinkinders, agterkleinkinders en peetkinders... oor 'n maand het hierdie mense nogsteeds die gate in hul harte soos die gate vandag in New York se skyline. Geboue kan mens herbou en skylines kan mens herstel, maar 5,000 mense sal ons nooit kan terugbring nie. Ons het egter 'n verantwoordelikheid teenoor dié wat mense verloor het, om hierdie te onthou, om ons harte na hulle uit te reik en hulle in ons gebede te dra.