
Sondagoggend is ons vroeg weer op die moltrein na die verre tippie van Manhattan, die finansiële distrik. M.a.w. Wall Street waar letterlik biljoene dollars in kapitaal per dag van hand verwissel word. Hierdie straat is die finansiële reus van die wêreld, die plek in die wêreld wat verreweg die grootste konsentrasie rykdom in ons sonnestelsel verteenwoordig (dis nou tensy daai ouens op Jupiter al goud ontdek het). Tuiste van die Amerikaanse Federal Reserve Bank, waar 10,000 ton goud 80 voet onder die grond deur ultra-sekuriteit beskerm word. Hier kyk ons af in Wall Street na Trinity Church, ook eens die hoogste gebou in New York toe dit gebou is in 1846. Dit is 'n ongelooflike uitsig om daardie kerk te sien toorn oor Wall Street, hopelik as 'n blywende herinnering vir die geldwolve wat hier rondloop om nie al hul hoop in hierdie verganklike dinge te sit nie.

Die oorspronklike stadsaal van Mamhattan, waar Peter Zenger in 1735 verhoor is in 'n hofsaak wat sou lei tot die vryheid van spraak vir die pers wat Amerika vandag nog so waardevol ag. Dit is ook hier waar Pres. Washington ingesweer is as president van Amerika, m.a.w. eerste tuiste van die Amerikaanse regering. Hier het die Amerikaanse regering soos hy hom vandag daarna uitsien sy eerste vergaderings en debatte gevoer. Die jammer ding is eintlik maar dat hierdie nie daardie oorspronklike gebou is nie, dit is in 1812 verwoes. Hulle het in 1955 hierdie replika gebou op dieselfde plek (kan jy imagine, op Wall St.) en is tans 'n Nasionale Monument. Snaaks, dit maak die geskiedenis wat saam met die gebou kom minder indrukwekkend as mens weet dat dit nie die oorspronklike gebou is nie, né?

Die NYSE. New York Stock Exchange. Bekendste en grootste effektebeurs in die wêreld. In 1998 het meer as 3000 maatskappye hier aandele verhandel met 'n gesamentlike waarde van $13 triljoen. 226 biljoen aandele. Iets afgrysliks. Die gebou lyk soos 'n Romeinse tempel en ek dink nie dis moeilik om te raai watter god deur baie mense daar aanbid word nie. Ons kon nie ingaan nie omdat dit Sondag was, maar gewoonlik kan mens deur die week gaan kyk hoe chaos dit daar binne is. Dit moet werklikwaar 'n skouspel wees!

Hier staan Marésa voor die ingang na Trinity Episcopal Church, sien, op die hoek van Broadway en Wall St, NYC. Hierdie gemeente, reeds in 1696 gestig, besit baie van die land waarop meeste van wolkekrabbers rondom dit staan, wat beteken dat die kerk in eie reg 'n swaargewig in die omgewing is. Geestelik weet ons nie hoe swaargewig die kerk is nie, daar was baie min mense in die kerk, mens kon hulle op jou twee hande tel, dit in die middel van die diens. Dit is dalk moontlik dat daar later nog 'n diens is, ons was vroegerig hier verby.

Selfs die McDonald's in hierdie gebied is iets besonders. Micky D's is bekend daarvoor om in die omgewing te probeer insmelt, hier het hulle dit weereens reggekry. Deur die week groet daar twee ouens in tuxedo's jou by die deur en jy stap binne met klaviergespel op die vleurklavier daarbo wat agtergrond musiek speel. Nie heeltemal jou gewone McDonalds op die straathoek van elke buurt nie hoor! Te midde van die flair, ons kon onsself egter nie sover kry om hier ontbyt te eet nie, dit bly steeds Micky D's…

Dit is waar ons kerk toe gegaan het Sondagoggend, by die Times Square Church. Die kerk is 'n ou teater met sitplek vir 1,300 mense wat omskep is in 'n kerk. Maar toe ons 10:00 daar aankom (die diens begin 10:00) toe is daar nie meer plek in die hoof ouditorium nie. Ons is toe verwys na 'n "overflow room" wat 'n verdere 500 mense inpak, stampvol. Oppad soontoe het ons talle ander sulke sale gesien, waar mens op reuse TV's die diens volg. Dit is nie dieselfde nie, is maar soos om in jou sitkamer kerk toe te gaan. Maar dit was 'n besonderse diens gewees. Hulle het 'n reuse gospel-koor wat voorsang begelei. Die skrifgedeelte wat aangehaal is hier op die voorkant van die gebou is so gepas vir wat ons binne teegekom het. Dit was die grootste diversiteit van mense wat ons nog beleef het, dit was so 'n voorreg om te weet dat hier mense van alle oorde van die wêreld is, en ons almal is broers en susters in die huishouding van die Here. Dit was ongelooflik.

Dit dan Times Square Sondagoggend, baie stiller maar nogsteeds 'n warboel mense en reuse advertensies. Na kerk is ons terug na die "Upper East Side", die gedeelte van Manhattan Noord van 59th St, waar Central Park begin en oos van Central Park. Ons wou teruggaan na Madison en 5th Ave. om te sien of ons enige winkels oop kon kry om binne te gaan giggel (sien Saterdagaand). Hehehe nee nie regtig nie, ons wou eintlik by 'n gewilde restaurant gaan middagete eet, 'n plek wat beroemd is vir die vars brode wat hulle bak. Ons Let's Go het die restaurant baie hoog aangeskryf, en siende dat ons oppad was na die Met, (Metropolitan Museum of Art), kon ons netsowel daar aangaan. Na ons die strate op en af geloop en gesoek het na die restaurant sien ons uiteindelik 'n leë winkelvenster met 'n papier op wat ons laat weet dat die restaurant pas verhuis het na Lower Manhattan. Aai wat 'n teleurstelling vir ons honger honger mage! Ons het egter 'n goeie alternatief gevind - Marésa se brandende lus vir goeie tradisionele olierige kêffie-tjips met 'n lekker hamburger. Dit het ons by 'n piepklein Italiaanse restaurantjie gekry, van alle plekke. Dit was die lekkerste hamburger wat ons in 'n baie lang ruk geëet het! Die restaurant is so klein dit het nie eens badkamers gehad nie, so ons na die oor na Barney's (baie baie eksklusiewe klerewinkel). Nou kyk, daar het ons toe ook ons giggel ingekry. Met die verbystap sien ons 'n truitjie. Nou julle, regtigwaar, daar was niks aan hierdie kledingstuk nie, mens sou nie die verskil tussen dit en 'n Ackermans toppie kon agterkom as jy die twee langs mekaar moes hou nie, beige gebreide truitjie. Vat 'n raai? Nope, nope, nope nog hoër. Nope, nope, raai weer. Nope, nog hoër. Uhuh, sewe-honderd en sestig dollar tot op die sent. Dit is malligheid. As jy nou binne jou iets hoor sê, "Wow, imagine om daai truitjie te kan bekostig…" is dit 'n goeie aanduiding dat jy dat pad begin byster raak. Gaan gee jou geld vir 'n honger kind in Hillbrow asseblief.

Die Met is een ongelooflike museum. Ons het nie naastenby alles gesien wat ons wou nie. Ons het letterlik deur die museum gehardloop in die paar uur wat ons daar was, maar het nie eens 'n fraksie van die vloeroppervlak deurgegaan nie. Daar is meer as 3.3 miljoen kunswerke in die museum, so nie naastenby die agtermiddagbesoekie wat ons van hom gemaak het nie. Mens kan letterlik maande hier spandeer, as jy nie iewers tussendeur dood neerslaan van kultuur-overload nie. Van die hoogtepunte wat ons kon sien (maar nie mag afgeneem het nie) was 'n groot verskeidenheid werke deur Vincent van Gogh. Dit was vir my die hoogtepunt, die strooihoed selfportret, die sonneblomveld en soveel meer. Die selfprotret is geskilder op die agterkant van 'n ander werk - hulle het mos op so manier canvas probeer spaar, so die skildery staan op 'n voetstuk in die een kamer, met 'n tweekantige raam. Daar is niks wat mens keer (behalwe die baie toegewyde wagte) om jou neus tot reg teen daardie skildery te druk en die fynste besonderhede te bestudeer nie. Dit was regtig 'n baie baie cool ondervinding. Ons het Rembrandt gemis, asook Johannes Vermeer en Picasso. Soveel te meer rede om terug te gaan hoor!

Een van die ander baie indrukwekkende uitstallings is hierdie "Temple of Andur", 'n reuse saal waarin die volledige tempel uitgestal word. Die tempel is oor die 2 duisend jaar oud en is in 1965 deur Egipte aan Amerika geskenk om dankbetuiging vir die Amerikaanse pogings om Egiptiese landmerke te beskerm. Die tempel is ongelooflik, om te dink dat dit in Jesus se dae gestaan het, en vandag staan dit binne hierdie reuse kamer wat spesiaal gebou is om dit te huisves.

Nog 'n deel van die tempel. J

Op 'n stadium so halfpad deur ons museumbesoekie het ons 'n baie diep en intense gedagte gekry dat ons nou regtig baie baie moeg is en graag wil huis toe gaan. So Marésa het die binnekant van die tempel opgegee en liefs bietjie ontspan op die marmervloer terwyl ek die foto's geneem het J .

'n Ander baie cool deel wat ons weer wil gaan sien is die gedeelte waar middeleuse wapens ten toon gestel word. Hierdie, die "Armor Room", is besonder indrukwekkend, met glinsterende volledige uitrustings van honderde honderde jare terug.

Daai manne moes darem baie fris gewees het om al hierdie yster te dra. Ons het ook mooi gesien waar die krieketspelers hulle idees gekry het om kolwers se sensitiewer organe te beskerm J . Dit kom al 'n laaaaang pad! Ek wens so ek kon onthou watter koning hierdie ene gedra het! Dit dateer iewers uit die 1600's uit.
Toe ons uit die museum stap het 'n groep straatdansers gereed gemaak om die massa mense wat uitkom vermaak. In New York kom jy die uniekheid van die swart Amerikaanse kultuur teë, veral in hierdie ouens. Hulle was ongelooflik akrobaties en het breakdancing gedoen wat enige TV show ore aansit. Hulle hardloop teen die mure uit en maak die coolste moves. Julle weet mos daai gevoel wat mens gekry het altyd nadat jy 'n niendja movie gekyk het, as jy daar uitstap wil jy net almal karate? Wel so voel mens as jy hierdie ouens klaar dopgehou het, jy loop daar weg en moet mooi konsentreer om nie 'n ekstra huppel in jou stap te sit of op die grond neer te slaan en te spin en tol nie.
Ons het die lang moltreinrit terug na die hostel geneem om ons goed te kry en is drie ure later by die kar in Newark Intl. Lughawe. Daarna is ons huis toe en het genuine baie baie moeg om 11:30 Sondagaand by die huis aangekom. By die huis het ons natuurlik die beste nuus ooit gekry, in die pos was Marésa se uitslae dat sy die groot farmasie eksamen deur is! Toe, ten spyte van die tyd het ons die bubbly uitgehaal en eers 'n glasie geskink en huis toe gebel met die nuus.
Dit was 'n baie baie ongelooflike naweek wat ons altyd sal bybly. 'n Naweek in die wêreld en die New York soos dit was voor 11 September 2001, toe daardie twee ongelooflike twee torings in tragiese terreuraanvalle tot berge rommel vervrommel is.
Nou ja julle, baie dankie dat julle saam ons in New York gekuier het! Nou weet julle waarheen ons julle moet neem as julle kom kuier!

Dit dan die reuse Smurfie, hy was so ongelooflik bang vir die verkeer gewees. Glad nie jou gemiddelde New Yorker nie hoor. Hy was heeltemal onbewus van my wat hom bietjie wou vryf en gesels, sy oë was net op die straat gewees met al die karre wat verbyzoom!