Saterdagmiddag en -aand
World Trade Center, 5th Avenue en Times Square

Met ons aankoms weer terug op Manhatten vanaf Ellis Island het ons hierdie kontras in die hartjie van die finansiële distrik, reg oorkant South Ferry Port gesien. Ek kan myself skop dat ek nie die gebou se naam onthou nie, ek dink ons was bietjie oorlaai van inligting teen hierdie tyd :) . Die kontras is egter ongelooflik. Die gebou dateer sekerlik van laat die 18de eeu of vroeg die 20ste, met twee reuse glinstermoderne wolkekrabbers wat letterlik teenaan die gebou aan beide kante die lug inrys. Die asof die geboutjie 'n "last stand" maak, hardnekkig om nie sy stukkie kosbare New Yorkse eiendom prys te gee vir die ekonomiese stootskraper nie.

So maak mens as parallel parking nie meer die oplossing bied nie (sien die hysbak in die agtergrond wat karre bo-op mekaar stapel).

Nou ja, vanaf die Statue en Ellis Island is ons die agtermiddag na die World Trade Center. Hier staan ons in die plein tussen die twee torings. Agter die fontein is daar 'n verhoog opgestel wat gedurende middagete jazz of klassieke vermaak lewer aan enige iemand wat belangstel om te luister. Ek kan net nie help om te wonder nie, as daar 50,000 mense in hierdie twee geboue alleen werk, hoe lank is die ry oor lunchtyd onder by die local Krispy Kreme donut winkel? Of waar kry jy vir jou 'n spot met lunchtyd om jou zamies te kom eet hier by die fonteintjie? Weetie. Ons was op 'n Saterdag daar.

Terwyl Jan verwoede pogings aanwend om meer foto's te neem as wat hy film voor het, het Marésa die tyd goed gebruik om die Let's Go nader te sleep en bietjie WTC-savvy te raak. Mens moet darem weet wat jou inwag voor jy hierdie toring aanpak!

Die een gebou is 'n hele 4 voet hoër as die ander (bietjie meer as 'n meter), maar 4vt uit 1378 is nie veel nie, hulle is eintlik maar dieselfde grootte. Die geboue is voltooi in 1973, gebou deur die Port Authority van New York en New Jersey. Dis die ouens wat die treine en lughawens en so aan beheer van hierdie deel van die wêreld. Konstruksie het 7 jaar geneem teen 'n koste van $700 miljoen. Tans huisves die geboue meer as 350 verskillende besighede. Ongeveer 'n miljoen kubieke meter grond is uitgegrawe om die fondasies te lê, hierdie grond het Manhatten ietwat groter gemaak na die Suidekant en is vandag "Battery Park", 'n nasionale museum wat 'n aantal forte huisves. Dis ook waarvandaan mens die ferry neem na Liberty Island. Die interessante ding is dat daardie forte altyd in vlak water gestaan het, sedert hul konstruksie in 1812. Met al die grond van WTC se fondasies af is dit natuurlik nou 'n park. Ongelooflik ne. Anyways, julle weet daai game wat mens speel met wolke deur op te kyk en te dink die wolke staan stil en die geboue val om? Met die WTC werk dit amper te goed, jy kyk gereeld af grond toe om jou brein weer te oortuig hy hoef vir bene te sê hulle moet beginne hol nie!

WTC Two. Dis die ene waarin ons nou binnekort gaan opgaan. Die totale geraamte en letterlik ondersteuningstruktuur van hierdie massiewe geboue in aan die buitekant, hierdie staal pilare wat by die grond drie-drie saamkom. Dit sorg vir minimum pilare aan die binnekant van die geboue en gevolglik maksimum kantoorruimte. Dit verhoed jou natuurlik ook op vanuit die binnekant van die gebou 'n mooi panorama uitsig oor die stad te hê, maar daaroor dat hulle die "observation desk" uitgefigure het.

Binnekant die mezzanine van die toring koop mens jou toegangskaartjies. Daar is geen teken meer van die bomaanval van 1993 nie, behalwe miskien die nou meer halfhartige poging tot streng sekuriteit wat gehandhaaf word. Mens stap deur metaalverklikkers, jou sak word deursoek en jou foto word geneem (jy kan natuurlik die foto later koop - kapitaliste). Sien daar staan ons in die weerkaatsing van die glas in die mezzanine met die vensters agter ons. Ons is hier nog op grondvlak, as jy gewonder het. :) Die hysbak neem 58 sekondes om jou die 107 verdiepings na bowe te neem, so almal staan heeltyd en gaap en kou en sluk soos jou ore aanhou toeslaan. Die hysbak lyk kompleet soos 'n oorvol vistenk sonder water met almal wat se monde oop en toe gaan. Die vloere tik verby soos die R/$ wisselkoers en mens kan nie help om te wonder op watter planeet jy gaan opeindig as die ding se brieke nie werk nie!

Nou ja, soos ek vroeër reeds genoem het, ons was ongelooflik geseën met 'n pragtige dag. Die observation deck is oop en mens neem 'n stel roltrappe wat jou 'n verdere 5 verdiepings of so vanaf die 107de vloer neem tot op die dak van WTC Two. Hier is die radiotoring op WTC One.

Die uitsig is asemrowend. Dit is die tipe ding wat mens jou lewe lank sal onthou, die tipe ding wat jy dankie vir die Here sê dat jy hier mag wees en dit mag beleef. Kyk hoe klein is Liberty Island en Ellis Island van hier bo af. Ons kyk dus nou af op die baai in 'n Suid-westelike rigting na die New Jersey kuslyn.

Hierdie was hond hond cool. Kyk die vliegtuig wat daar onder verbyvlieg oor die Hudson rivier! Ons staan actually hoër as die vliegtuig en kyk af na waar hy daar onder vlieg! Pretty mean ne!

Hier kyk ons nou reg Suid, uit oor die poort na die baai daar in die verte. Die eiland in die voorgrond is Governer's Island, die land na die Ooste is Brooklyn. Onder in die foto steek Battery Park uit, met 'n ferry wat sopas vertrek het vanaf Battery Park na die Statue toe.

Hier dan Brooklyn.

Hierdie is 'n panorama wat ek gemaak het deur die boonste twee foto's elektronies aan mekaar te stik. Pretty nifty ne! Ek is baie teleurgesteld, hierdie is die enigste een wat reg uitgekom het, die ander wou nie lekker in mekaar pas nie as gevolg van die persepsie wat bietjie snaaks is.

Hier loop East River af tussen Manhatten en Brooklyn, met Brooklyn Bridge die eerste van die twee brue. Kan jy glo dat daardie brug eens die res van New York verdwerg het?

'n Baie mooi uitsig op vier uiteenlopende argitektoniese style op Wall Street, met daardie miniatuur lughawe'tjie bo-op die een gebou se dag.

Nou ja, die hoogtepunt natuurlik, die uitsig oor Manhatten. Dis alles een moewiese STAD. Big time stad. East River doer in die regterkant, Hudson River doer in die linkerkant, Manhatten wat vir 13 myl Noord beur onder miljoene tonne beton. Die donker kloof wat oploop reguit deur die tros wolkekrabbers daar voor is Fifth Avenue, die gesogte straat wat van die bekendste geboue in New York as adres neerskryf: Empire State Building, die Guggenheim Museum, die Metropolitan Museum of Art. Natuurlik ook Tiffany's, Calvin Klein en die maters. Daar sou ons later die aand 'n draai gaan loop. As jy mooi kyk sien jy hoe die Empire State Building trots bo die ander geboue uittoorn.

In die verte lê die gagaste deel van New York, Queens. Mens raak nie maklik benoud hier bo nie, want sien jy staan so endjie in vanaf die kant van die gebou. Die spoortjies hier in die voorgrond is vir die hokkie wat oop en af langs die gebou beweeg om die vensters skoon te maak. Nou DAAR is die eerste slag wat ek ERG benoud geword het, toe ek myself indink 'n loopbaanskuif maak en WTC Venster Hokkie Jokkie word. Ek wou net gaan sit en afkyk toe ek dink wat dit moet wees om in daardie draadhokkie te moet op en af ry tot hierdie hoogte om vensters skoon te maak. Snaaks, dit het nie Marésa so erg gepla nie! Nou ja, ek dink net nie sy het haar REGTIG daar binne sien sit, met die twee ou dun kabeltjies wat jou van daar bo af laat hang nie. Ag shucks, ons moes dié kontrepsie afgeneem het om julle te wys!

Kyk net die behuising in daardie gedeelte daar. Alphabet City, omdat hul straatname letters is ipv syfers soos die meerderheid van Manhatten. Verbeel jouself een oomblik jy is 'n 16 jarige tiener wat grootgeword het in 'n brandarm huisgesin in die middel van daardie buurt. Dit het my dankbaar gemaak vir ons tuisland, en laat verlang huis toe, na eenvoud en hoop. Die rykdom van Wall Street kom met 'n prys, die lewens van die mense wat in daardie buurt grootword, die swere wat ontwikkeling in die samelewing maak. Soos 'n pitsweer bring dit nimmereindige hartseer in geel sweersel voort in gebroke lewens, krom en korrupte verwysingsraamwerke. Halwe mense van klip en beton in die moltreine. Ander natuurlik ook, Paul Simon, Art Garfunkel, Woody Allen, Robert de Niro, Rooseveldt, Rockefeller en so aan het almal hierdie eiland huis genoem in hul kinderjare.

Hier dan so naby as wat ons kon kom aan die Empire State gebou, met Fifth Ave asof iemand 'n reuse saag gevat het en die eiland in twee wou sny.

Weereens, die vereiste ons was ook daar foto. :) Aai, daardie mooi foto wat Marésa so graag van ons wil hê wil ons net nie vind nie!

Hierdie foto het ons geneem van binnekant die gebou weer. Sien, mens kan daar op sulke beknopte bankies gaan sit REG TEENAAN die venster en tussendeur die geraamte van die gebou uitkyk op stadaktiwiteit onder jou. Dit is hier waar ek die tweede keer kwaai benoud geraak het toe ek daar sit en aan daardie venster klop en besef daar is maar etlike millimeter tussen my 450m grond toe. Met hierdie foto, wat ons wou neem om 'n unieke view op die klassieke geel NYC taxi's te bied, was amper te veel vir my gewees. J Kyk die tuine hier en daar op die gebou dakke. Daai bome eet darem lekker in die aand aan die koolstofdioksied ne! Ek wonder op watter een van die dakke het die manne gesit en Castle drink op daardie een advertensie?

Vermaak aan die binnekant van die WTC vergelyk natuurlik glad nie goed met dié al rondom die vensters langs nie. Hierdie skaalmodel van Manhatten was egter heel oulik. Ons het die filmteater besoek om op 'n hidrouliese platform te sit en hop hop terwyl jy kwansuis met 'n helikopter deur die stad vlieg. Ding is net, as jy pas op die hoogste opelug uitkykpunt ter wêreld gestaan het en een van die mees asemrowende uitsigte ingedrink het vir 'n halfuur of so, dan is die stukkie simulasies ook nie meer heeltemal wat die vervaardigers daarme in gedagte gehad het nie. Nietemin, ons het gereken ons kry die hele pakket :) . Ons het 'n vroeë aandete geëet by die restaurant op die 107de vloer en die amper vryval hysbakrit terug grond toe gevat om die aand binne te gaan.

Vanaf die WTC is ons na die grootliks uithanggebied in New York, die deel net oos van Central Park, 5th Ave, Madison Ave ens. Dit is hier waar al die ontwerper boutieks is en waar die rykste van die rykste outjies kom sjop. Dit was toe natuurlik ook al aand, want as gevolg van 'n baie gekompliseerde moltreinroete wat ons toe kies om ons daar uit te bring, het ons eers rondom 8:00 se kant dit tot daar gemaak, 'n uur nadat ons by die WTC weg is. Tot ons totale verbasing was al die ongelooflike winkels se deure reeds gesluit gewees! Ons het nou regtig gedink dat dit nog te vroeg is om daardie mense se gelduitgeehonger geblus he. Maar nou ja. Al wat dit beteken het is dat ons nie in die winkels kon ingaan en giggel en oor alles se pryse WOW nie. Maar nou ja, ons het darem in die aand daar rondgeloop. Dit hotelle in hierdie gedeelte is nie heeltemal in dieselfde klas as die waar ons gebly het nie, 'n gemiddelde prys vir 'n enkelkamer is $350, die tipe plek waar Brad Pitt en die manne kom bly. Die strate is oortrek van die limo's en neusoptrekkerige omies in aandpakke wat voor die lobby's van hottele staan en in nagemaakte hoog-Engelse aksente die deure vir mense oopmaak. As hulle nie deure oopmaak nie, is hul werk om neer te kyk op elke gewone burger wat voor die hotelingang verbyloop. Sommiges is meer effektief as ander om jou skuldig te laat voel dat jy durf die sypaadjie met die hotelfasade deel. J

Nou ja, soos julle kan sien, ons was nie hierdie naweek baie suksesvol met portrette neem nie. Marésa het besluit om te wag dat die aankomende mense eers verby ons stap, ek het besluit ek kliek gou-gou voor hulle voor ons verbykom. Die resultaat: Maresa wat skrik en vinnig 'n laggie gooi. :) Snaaks ne? Nietemin, hier staan sy voor Tiffany's. Ons het darem Breakfast at Tiffany's die vorige week gekyk, so ons moes dié luukse juwelierswinkel opspoor om van naderby te bestudeer. Maar ook toe. Oh well.

Hier is my vrou weer, die slag is ons binne in 'n mall, ek neem haar af in die politoerde brass-muur langs die hysbakke. (Weet waar daardie hysbakke heen gaan nie, maar nou ja). Ons het sommer so bietjie rondgeloop en die dag se gebeure ingeneem. Die hele mall is oortrek van die marmer. Marésa het egter tot haar skok 'n juweliersware winkel binne hierdie gebou gesien wat durf gewone prysklas juweliersware verkoop. Kan jy dit nou oorvertel? Die nerve wat sommiges darem maar het, wat dink hulle!

Nou is dit ook al weer te lank terug om te onthou wat hierdie cool winkel se naam was. Maar imagine dit, hoe duur moet 'n panty nie daar wees as die plek drie verdiepings se vloerspasie opgee ter wille van 'n hoë plafon nie? Dit in 5th Ave! Anyways, ek moes die kamera op 'n posbus neersit, wat rond bo is, daaroor dat die gebou afdraend loop na links toe!

Dit dan Times Square so 10:45pm die aand, toe ons klaar aandete by 'n klein italiaanse restaurant net Wes van hier geniet het. Times Square is ongelooflik. Daar is soveel mense daar dit voel soos Kersfees in 'n winkelsentrum. Nauurlik ook alle soorte mense, daar is so min mense wat gewoon lyk dat jy sommer spesiaal voel met jou dagoud shorts en moTimes Square is ongelooflik. Daar is soveel mense daar dit voel soos Kersfees in 'n winkelsentrum. Nauurlik ook alle soorte mense, daar is so min mense wat gewoon lyk dat jy sommer spesiaal voel met jou dagoud shorts en moë bene. 'n Groot deel van die crowd is mense wat uit die teaters kom op Broadway, wat beteken dat daar baie mense rondloop in aanddrag. Dit was 'n ongelooflike ervaring en een van die kere wat ons skouers geskuur het met die ongelooflike pas waarteen New York voortsnel. Times Square is vernoem na die New York Times, wat nogsteeds hier naby woon. Dit is ook die besoekplek van by die 27 miljoen jaarlikse besoekers wat 'n beraamde $12 biljoen in die omgewing kom spandeer. Die neon-advertensies is ongelooflik, die televisieskerms van die grootstes in die wereld. Sien die een daar in die agtergrond wat lyk of dit sulke swart kolle op het, dit is omtrent 10 verdiepings hoog, daardie swart kolle is vensters. Die hele gebou is oorgetrek met 'n massiewe TV-skerm. In die sestigerjare het Times Square verval in pornografie en was vinnig oppad om die Rooilig Distrik van New York te word, totdat die stadsraad meer gewenste besigheid na die Square gelok het met gunstige belastingstrukture. Vandag is gelukkig niks meer van daardie jare oor nie, behalwe vir een ambisieuse straatverkoper wat 'n boek of twee met minder preutse titels probeer smous het. Hier kan mens ook 'n goeie fake Rolex optel vir $10.

"Absolut New York". 'n Massiewe billboard in Times Square met 'n volskaalse apartment gemeubileer deur Ikea met baie realistiese meubels. (Ons moes mooi na die bed kyk om te onsself te oortuig daar is nie regte lakens daar oorgetrek nie). Dis so donker want dis 11:00 die aand. Goed gedoen ne?

Dit dames en here, een van die meer kreatiewe maniere om geld te maak in die stad. Trek goud aan en verf jouself goud en staan botstil totdat iemand iets in jou beker gooi. As iemand iets ingooi, fluit of maak 'n vinnige move. Hierdie ou het mooi nee gesee toe ek hom wou afneem en gewys ek moet eers betaal. Toe se ek ek sal betaal as ek klaar geneem het, toe wil hy my amper aanval. Toe betaal ons maar eers :) . Teen daardie tyd was die idee om hom af te neem nie meer so 'n aantreklike idee nie, maar die skare mense wat die petalje dopgehou het het ons genoop om maar die foto'tjie te neem :) .

Hier dan Janneman voor die een deel van die Square.