Amazing Maize Maze
20 Oktbober 2001

Kyk, Lancaster County in Pennsylvania is 'n baie oulike gedeelte. Dit is "Pensylvannia Dutch Country", waar die Amish mense woon. Maar ons het nie gegaan om die Amish te besoek nie, ons wou in die mielieland gaan verlore raak! Kyk hoe mooi is die lande. Ek wil nog so graag een dag dat ons so baie van die regte ou "barns" afneem. Dit is so Amerikaans!

Hier is sommer 'n plaashuis. Lyk maar net soos by ons ne!

Hier is nou Cherry Crest Farm, die Amazing Maize Maze. :) Daar is talle sulke doolhof mielielande oor Amerika, hulle reken die winsgewendheid van die land word baie hoër, wat sin maak, want jy kry mielies en mense wat jou betaal om daar rond te loop uit dieselfde land. Dit is beslis die geval as mens dink hoeveel mense daardie Saterdag daar was hoor! Maar sodra mens in die maze is, dan voel dit regtig nie so besig nie, jy sien heeltyd mense, maar die spul is oor 10 akkers versprei, so jy's darem nie te veel in mekaar se pad nie. Dit was so oulik, al die mense wat daar werk is so opgewonde oor die hele ou storie! Hulle wil net heeltyd mens maak "Old McDonald had a Farm" sing (dis die tema van hierdie jaar se maze), en vermaan jou om nie té "corn-fused" te raak nie :). Ons het eers almal gaan sit vir 'n inligtingsessie waarin die ups en downs (of eerder, die lefts and rights) van hoe alles werk aan ons verduidelik is.

Die mielies staan hoog genoeg dat jy regtig nie bo-oor dit kan koekeloer waarheen jy moet gaan nie. Dit is ook dig genoeg dat al sien jy 'n aangrensende paadjie deur die mielies, dis eintlik maar alles net mielies, so jy't regtig nie 'n clue waar jy is nie! Die omie in die begin het ons gesê dat as ons sodra ons instap 29 regte besluite neem, dit ons 20 minute sal neem om deur die maze te stap. Wel, dit het ons 29 treë gevat voor ons totaal nie meer 'n idee gehad het waar ons is nie! Die groen lint wat langs die paadjie is, behoort mens 'n aanduiding te gee van waar in die maze jy jou bevind.

Sien, die maze lyk as volg:

so, die kleur van die lint wat langs die paadjies gespan is, gee jou 'n aanduiding van waar jy jou tans bevind. Groen, dan's jy iewers op die grasperk, rooi, iewers in die barn, wit, iewers in die windpomp, ligblou in die trekker ensovoorts. As jy geel lint sien, dan weet jy jy het dit gemaak!! Dit was nou vet pret maters. Jy begin die maze sonder enige kaart of enigeiets. Dan is daar oral langs die pad stukkies van die kaart in posbusse sodat jy soos jy aangaan meer van die prentjie kry:

Op jou kaart is daar ook 'n klein blokraaiseltjie met allerhande plaasfeitjies wat jy kan invul as jy orals langs die pad die nodige wenke kry:

Dan is daar allerhande pret goedjies ook langs die pad. Soos hierdie "Amish Phone Booth". Daar is 'n regte telefoon daarbinne. Jy't dan die keuse om of iemand op die plaas te bel (Ouma), of jy kan iemand anders bel en vra dat hulle vir jou op die internet moet kyk hoe jy nou moet maak. So jy kan iemand bel en hom vertel hoe jy 'n boer in Pennsylvania betaal het om verlore te raak in sy mielieland en nou weet jy nie meer hoe om uit te kom nie. :))

Hier sit Jan en ploeg biekie die lande... Snaaks dat Jan op al die pretfoto's is en Marésa op al die blokraaiselwenkies en kaart is :)).

Op twee plekke kan mens op 'n brug klim en bietjie 'n oorsig kry van waar jy is en so aan. Jelp jou ok nie eintlik nie. Die brug daar op die foto is die "Victory Bridge". Dit is waar jy uitgaan as jy die uitgang gekry het. Mens kan 'n vlag ook saam jou vat vir as jy totaal verlore raak, dan waai jy die vlag in die lug as jy bietjie verlore raak. Die ouens sal jou dan oor die luidsprekers laat weet waarheen jy kan gaan. Jy kry sulke seine wat jy kan gebruik om "Ja" of "Nee" te antwoord op die vrae wat hulle het. :)

Die hele area is eintlik so 'n unieke kultuur op sy eie. Daar is historiese Strasburg so 5 myl van die plaas af, vanwaar hierdie stoomtrein mens vir 'n rit rondom die area kan neem. Die stoomtrein self is pragtig en bly in die Penssylvania National Train Muzeum, net af in die straat. Julle, as julle kom kuier gaan ons verseker hierheen! Die wêreld hier is net so NIE Hollywood nie, mens kan nie dink dis Amerika nie.

Hier's die stoomtrein nou van nader, spesiaal vir Pa.

Dit het ons op die einde TWEE ure geneem om by die maze uit te kom! Ons was egter determineerd om al die stukkies van die kaart te kry, maar na twee ure het ons besef dit gaan nie meer gebeur nie. Ons het toe maar die pad uit begin soek en met die hulp van ons toe (baie amper) volledige kaart kon ons dit maklik uitkry! Hier's ons finale produk:

Die los stukkie is die ene wat ons nie kon kry nie :(. Dit was nietemin vet pret! Na ons maze speletjies het ons by hierdie koffiewinkel in Strasburg, PA gaan ietsie eet en drink.

Dit was 'n pret Saterdagmiddag hoor! Kyk hoe mooi is die winkeltjie binne. Dit voel regtig soos platteland hierm al is dit net 40 minute van ons huis af!