Southwest Vakansie

7 - 14 Augustus 2002

7 dae, 2700 km's, 9 asemrowende hoogtepunte van die Suidweste van Amerika. Ons het 'n ongelooflike vakansie agter die rug, 'n handjievol goue tyd wat Ernest Hemingway in tydlose novel sou omsit, Vivaldi in majestieuse simfonie.



Inleiding & Sedona, AZ

Bo aan die lys bloot vir chronologiese doeleindes is 'n dorpie oortrek met New-Age-elinge. Die poort na "Red Rock Country", en die eerste stop op ons opwindende roete van Phoenix, AZ na die Grand Canyon.


Grand Canyon National Park

Hierdie reuse groef in die grond is 15km breed, amper 2km diep en strek oor meer as 350km. Die roue skaal wat mens te doen kry wanneer dit voor jou uitstrek bring trane tot jou oë, en jy kan nie help om die Skepper van hierdie Wonder van die wêreld daarvoor te prys nie.


Grand Staircase Escalante National Monument

Rou, dorre aarde. 'n Rommelhoop van rots en sandsteen in willekeurige wyse oor woestynsand verstrooi en aanmekaargestik met enkele lowergroen waterare. Hierdie ongelooflike landskap was 'n verrassing en 'n hoogtepunt van ons vakansie.


Bryce Canyon National Park

Die blote absurdheid van hierdie konkelende sandsteen los jou met dieselfde gevoel van verwondering as die Grand Canyon. Hierdie "canyon" is vernoem na die Mormoon pelgrim Ebenezer Bryce, wat gereken het "It's a hell of a place to lose a cow."


Zion National Park

Zion oorweldig mens met die grootste sandsteen-berge ter wêreld. 'n Landskap van onbegryplike dimensie, ryk in diversiteit en in sterk kontras met die res van die canyons. Mens word oorval met lowergroen woude, veelkleurige kolkgate en 'n ongelooflike nou riviermond waar die canyon 250m hoog bo mens uittoorn.


Monument Valley

Nog 'n hoogtepunt van ons vakansie. Mens besef amper nie tot hoe 'n mate jou indruk van Amerika deur hierdie landskap gevorm is tot jy dit beleef nie. Die mesa's en buttes wat uit die rooi grond uittoorn stempel 'n onvergeetlike afdruk op jou hart wat die opskrif word van die hele Suidweste.


Canyon de Chelly

Die imposante rotsmure van hierdie kronkelende canyon was die tuiste van die Anasazi Indiane ("The Ancient Ones"). Later van tyd, en vandag nog woon die Navajo Indiane hier, dis hier waar van die bloedigste gevegte tussen die aanvanklike Europese settelaars (Spanjaarde) en die Indiane plaasgevind het.

Painted Desert & Petrified Forest National Park

Aanvanklike tuiste van die Pueblo Indiane, meer as 'n duisend jaar gelede. Ook tuiste van 'n massiewe tropiese woud, meer as 200 miljoen jaar gelede. Letterlik duisende massiewe gefossileerde boomstompe lê verstrooi oor die dorre aarde, opgegrawe deur miljoene jare se erosie en vulkaniese druk.