
Die Navajo Indian Reservation is 'n baie interessante plek, met dorpsname soos "Rough Rock" en "Many Farms". Hulle maak dit darem nie moeilik vir jou om uit te figure hoe die dorpie gaan wees nie! Dis ook geen geheim wat dit vat om 'n man te wees hier nie. Jy moet net 'n groot "truck" ry. Jitte, ons het meer bakkies hier gesien as enige ander plek ooit. Almal ry dit, letterlik almal. Maak natuurlik sin op al die stofpaadjies en dinge, maar dis verseker 'n kultuur ding ook!
Ons het die oggend by Canyon de Chelly spandeer. Hierdie canyon was die tuiste van die Anazasi ("Ancient Ones") in die tydperk ongeveer 350-1300AD.

Ons het 'n interessante ondervinding hier gehad. Mens word oral gewaarsku om versigtig te wees met die mense wat met jou praat. Die Navajo is 'n baie arm nasie, en met armoede kom misdaad. Toe ons uit die kar klim by hierdie uitkykpunt, stap 'n ou nader wat baie vriendelik met ons gesels. Maar die ou is nie baie nugter nie :). Hy neem ons toe op sy "guided tour", sonder om eers seker te maak dat ons bereid sal wees om te betaal. Wel, na die halfuur se gesels, wat hy ons al die plantjies uitgewys het wat vir medisyne gebruik word, en baie politiek gepraat het ("... the government will never tell you this..., ... all those signs are lies, the National Park Services won't tell you that..." ens. ens., dring hy toe op sy fooitjie aan. Wel, ons gee hom toe 'n skamele $2 en sê hy moenie so baie drink nie, maar sjoe, hy's woes omgekrap hoor. 'n Oomblik terug was hy nog baie vriendelik en geinteresseerd in ons en so aan, en die volgende is dit asof ons 'n ongenooide gas op privaat eiendom is. Dis lelik wat alkohol aan mens doen.
Nog 'n goggorobbie wat in die lekker oggendson gebak het:

Die Anasazi, en later die Pueblo Indiane, het huise in die kranse gemaak - "cliff dwellings".

The White House Ruins:

Dit is in hierdie canyon waar die eerste Europeërs met die Pueblo Indiane kontak gemaak het. Die Indiane het goed geveg, omdat die Canyon 'n redelike beskutting gegee het. Hulle het teen die kranse uitgeklim, en vanaf die hoogtes hul pyle laat reën op die Spaanse settelaars wat hier intrek wou neem. Maar soos met die res van die Indiane, het hulle uiteindelik gekraak onder die druk van superieure wapens en die onwrikbare grondgierigheid wat in die settelaars se harte geheers het.

Hier is ons tweetjies nou op die Suidelike rim:


Dis ongelooflik, mens sal dink dat na 'n week in hierdie wêreld begin jy moeg raak en wil huis toe gaan. Mens sal ook dan dink dat een rooi klip baie soos 'n ander begin lyk. Maar toe ons hierdie ongelooflike werk van die natuur aanskou, is ons weer opnuut verwonder deur die werk van die Here. Sy glorie skyn in die hele skepping, maar hierso is dit asof die landskap sy lof in oorverdowende engelesang besing. Hierdie is Spider Rock, 'n massiewe spire wat omtrent die hoogte van die Canyon uit die grond uitreis. Bestudeer die foto mooi, en bedink jou die skaal van hierdie kunswerk in. God is groot, en die werke van sy hande is goed om te aanskou!
