Zion National Park
10-11 Augustus 2002

Na ons oggend in Bryce, is on weer Wes en daarna Suid-Wes op Rt. 89 na Zion National Park. Rt. 89 is 'n ongelooflike mooi roete, met baie van dieselfde landskap wat mens oral hier te siene kry: rooi canyon-agtige rotse, sandsteen berge ensomeer. Die dag was dit ongelooflik warm!

Zion National Park is 'n ongelooflike park. Dit is soveel anders as enige van die ander plekke wat ons gesien het, bloot omdat dit GROEN is! Met die inryslag, word mens egter verras met 'n reeks reuse sandsteen berge wat voor jou oppop.

Zion het die wêreld se grootste sandsteen berge. Die sandsteen maak dat die rots baie poreus is. Dit neem dis vreeslik baie water op as dit reën. Die water in die rots veroorsaak dat die struktuur van die rots verswak, en wanneer die rots uitbreek, vorm dit dan arches soos hierdie reuse een:

Om in die vallei te kan kom, ry mens deur 'n 1.8km lange tonnel wat in 1930 voltooi is. Vir die tegnologie beskikbaar tot ingenieurs van daardie tyd, is dit 'n ongelooflike stukkie werk om daardie lange tonnel deur hierdie berge te kerf hoor. Dit was gereken as 'n onmoontlike projek, maar hulle het dit gemaak. Die landskap is dramaties anders aan die anderkant van die tonnel, wat jou in die hartjie van die Zion Canyon uitspoeg.

Zion NP het ongelooflik baie om te bied, maar ons beperkte tyd en moeë voete wou nie baie hoor van groot hikings nie. Ons het dus besluit om die middag na 'n maklike plekkie te gaan kyk - weeping rock, wat in die hartjie van die canyon/vallei sit.

Die weeping rock is hierdie oorhang waar dit altyd drup van water wat deur die sandsteen berg sypel. Die water loop letterlik uit die rots uit. Mens sal dink die water moet silwerskoon wees as dit deur so reuse filter gaan, maar ongelukkig is daar sekere goggatjies in die water wat deurglip. Hulle beveel dus aan dat mens maar liewer nie die water drink nie.

Kyk die groenigheid, iets wat ons in 'n lang lang tyd nie gesien het nie! Dit was so lekker koel gewees hier onder hierdie druppende water hoor.

Die volgende oggend het ons 'n taaierige hike aangedurf na die Hidden Canyon toe. Dis 'n 3.6km retoer hike, maar die catch is dat jy 850vt in 'n myl klim. So dis nogals baie uitputtend! Hierdie bok het die paadjie op saam met ons gestap, dood rustig en op sy eis al die pad teen die berg op. Behalwe, waar ons switchbacks gemaak het, het hy sommer reguit op geloop!

Halfpad op loop mens op 'n baie nou lysie, met 'n ketting teen die rotsmuur om jou te balanseer.

In die hidden canyon, sien mens hierdie mini kolkgaatjies soos die wind en die weer die sand uit die muur kerf.

Die trail hou op 'n stadium op, waarna mens jou pad oor en deur allerhande rotse en dinge moet vind.

In die Hidden Canyon, loop jy in 'n nou Canyon met muur van rots wat langs jou uittoorn vir omtrent 300m.

Daar is 'n scenic root wat al langs die bed van die Canyon loop, of jy kan deur hierdie skeur skuur om op die rand van die rots te gaan loop vir die scenic route.

Hier's 'n archie!

Party van die kolkgate is groot genoeg om klein grotjies te vorm, met strepe in allerhande skakerings van pienk wat blootgelê word.

Hier is nog so 'n gemaklike kolkgat!

Zion Canyon is 'n baie lang en maer canyon wat Noord-Suid, met die rivier wat daardeur kronkel. Die Noordelike deel daarvan is baie interessant, want daar kan mens in die rivier deur die "narrows" gaan stap, waar die canyon op sy nouste is. Jan was nie baie lus om met sy skoene deur die rivier te gaan stap nie, maar toe hy Marésa so sien staan en kyk, toe weet hy daar is nie nou omdraai nie.

Die canyon word al hoe nouer.

Hier toorn die rots 2,000vt bo mens uit, en is omtrent 30 voet uitmekaar. Daar is plekke waar dit baie nouer word, as mens bereid is om die hele dag deur die rivier te stap. Ons droom vandag nog van daardie hiking trip. Daar is soveel om te sien in hierdie mooi land, mens kan jare lank daar vakansie hou! Hier staan Marésa in die middel van die canyon.