Grand Staircase Escalante National Monument
9 Augustus 2002

Hier's net weer 'n recap op die pad wat ons gery het oppad na die Grand Staircase Escalante. Ons het Rt. 89 Noord geneem, verby Cameron (waar ons middagete geniet het).

Die Indiaan reservate is baie minder glamorous as wat mens vir hulle sou hoop. Dit is in fact 'n sosiale verleentheid. Arizona, waar 'n groot deel van die staat uit reservate bestaan, is die staat met die tweedehoogste voorvalle van alkoholisme. (Vermont is die hoogste, in New England, wat ook een van die armste is). Dis die eerste keer dat ons in Amerika gery het en oral bordjies langs die pad gesien het wat mense aanmoedig om nie te drink en te bestuur nie. Die Indiane is meestal arm (behalwe die stamme wat permitte het om casino's te bedryf), en bly as volg:

Hierdie is alles deel van die Navajo Indiane. Die land behoort aan die stam, nie aan die mense wat dit bewoon nie. Dit is 'n besluit wat deur die stam geneem is, om die land nie te verdeel onder die Navajo nie. Dis soos 'n ander land, in die midde van die USA.

Langs die pad oppad terug het ons vir 'n lang gedeelte van die Noordelike gedeelte van Rt. 89 al langs die Colorado rivier gekronkel. Kyk net die mini-canyons wat deur die rivier gekerf word. Hierdie was in ons opinie die begin van die canyon.

Die hele wêreld hier het die mees ongelooflike reliëf. Hier pop skielik 'n berg langs jou op, wat as jy hom opgery het en stop om terug te kyk, jy behoorlik na jou adem snak. Kyk daar onder daardie grys slurpies is waar ons gery het!

Die rots is alles sandsteen, wat met verwering deur die wind in fyn woestynsand verander, soos jy hier mooi kan sien. Dis nou net bo-oor die tippie van die berg.

Ons het ten einde laaste by Lake Powell aangekom, wat deel uitmaak van die Glen Canyon National Recreation Area. Hier naby iewers is ook die grens tussen Utah en Arizona, wat beteken dat ons tydsones gespring het, siende dat Arizona nie Daylight Savings Time doen nie. Ek sal die deel van Lake Powell en die Glen Canyon National Recreation Area wat ons nou gesien het spaar vir die bladsy so bietjie later waar jy dit kan gaan besigtig.

Nou ja, die Grand Staircase Escalante is verseker die grootste verassing op ons trippie gewees! Ons het eintlik nie geweet ons gaan iets daar kry nie. Die sagteware wat Jan gebruik het vooraf om die roete te beplan het net gesê draai hier Noord vanaf Rt. 89 om by Bryce uit te kom. Wel, ons kom toe daar en daar is toe nie eintlik 'n pad Noord nie. Die kaart lyk as volg:

Ons kom toe nou hier van Suid-Oos af op Rt. 89, en moet die eerste regs vat daar waar die groen roete opsplit. Oh terloops, so groot 'n verassing as wat Grand Staircase was, ons is die spytste dat ons die Paria Canyons gemis het, (sien daar Suid net links van Rt. 89) ons het 'n muurkalender met die mooiste foto van die canyon gehad, en as ons maar net geweet het dat ons reg teen dit verby is! Ja nee okay, nou as mens na die kaart kyk pad is daar deur due National Monument nie, maar dit het na 'n billike roete gelyk! Anyways, toe ons op die spesifieke splitpunt kom is al wat ons kry 'n ou draadhek voor 'n grondpad. Ons draai toe maar in, en daar staan 'n ou verslete houthuisie met 'n boksie in en pamflette oor die Grand Staircase.

Wow, toe sien ons eers wat ons nou hier voor ons het. Oral is daar borde wat sê mens moet liefs nie hier inry as jy nie 'n high-clearance 4x4 het nie. Wel, ons reken toe ons Jeep is verseker high-clearance enough en Jan jeuk lankal al om hom in 4x4 te gooi en soos 'n regte man te voel. Die Grand Staircase is deel van die BLM (Bureau of Land Management) land, wat beteken dat dit publieke land is met status net onder 'n National Park of National Forest. So daar is nie rangers en goete nie, daar's net spesiale wette wat die land beskerm. Mens kan egter teoreties daar doen net wat mens wil. Dis 'n MOEWIESE stuk land, 1.9 miljoen akker om presies te wees. Die naam kom van die feit dat mens hier letterlik trapsgewys deur biljoene jare se sedimentasie klim oppad na Bryce Canyon toe. Dit gaan van Chocolate Cliffs, na Vermillion Cliffs, na White Cliffs, na Grey Cliffs en laastens die kleur van Bryce Canyon, Pink Cliffs. Kyk hoeveel jy kan spot. ;)

Daar gaan niks aan nie. Ons het geen wild gesien nie. Die wêreld is dor en doodstil. Mens hoor die bloed deur jou ore suis. Dit is ongelooflik.

Daar is 'n paar riviere wat droog op die oppervlak loop, maar genoeg grondwater voorsien om bome te onderhou wat die teenwoordigheid van die water verklap. Jitte julle, hierdie plek is amazing gewees, die verskillende kleure van die rotse en sand, die blou van die lug. Alles was ons een te veel. Die aarde is lewendig hier, met rotsstortings galore. Partymaal ry mens so naby aan hierdie rotsstortings-plekke verby dat jy skoon half nervous word.

Dit lyk soos die rommelhoop waar die Here al die oorskiet rots kom stort het na Hy die res van die berge aanmekaar gesit het.

Die hoek waarteen hierdie wal uit die grond kom, is parallel aan die lyne oor al die hope/berge/heuwels/koppies in hierdie gedeelte. Behalwe hierdie verbasend afgeronde stukke rots wat skielik uit die grond opstoot:

Die erosie wat die rivier teweeg bring veroorsaak dat die hele rivierbed so 6-10 voet onder die vlakte lê. Ons het gestop en langs die rivier 'n blitsnap gaan vang. Dit was amazing, die wêreld is so stil dat jy jou nie kan indink daar bly nog 6 biljoen ander van jou soort op hierdie aarde nie. Kyk die weird arches daar in die agtergrond.

Op een stadium et ons oor 'n heuweltjie gekom en 'n ongelooflike hoeveelheid kleure ingeneem. Dis jammer die skadu verberg so bietjie daarvan op hierdie foto. Maar hierdie uitsig was 'n asemrowend.

Hierdie is Grosvenor Arch. Dis 'n dubbele arch wat natuurlik gevorm het. Voor dit is die Boshoff Arch, nog 'n natuurlik-gevormde arch, maar met 'n baie korter leeftyd as die rots ene.

Pretty impressive, né?

Die laaste uitsig oppad uit die Grand Staircase Escalante uit. Ons kon nie uitgepraat raak oor hoe bly ons was dat ons besluit het om die grondpad te neem nie. Die scenery het meer as opgemaak vir die teleurstelling dat mens nêrens 4x4 nodig gehad het nie. Oppad uit het twee Duitsers met Harley Davidsons gestop en gevra of hulle met hul motorfietse daar sal kan inry. Ons het hulle aanbeveel om dit liefs nie te try nie, dit was nou nie sulke mooi paaie nie, en selfs 'n klein karretjie sou baie gesukkel het.