Grand Canyon National Park
8-9 Augustus 2002

Ons het met sonsonder by Grand Canyon aangekom. Die mees verassende ding rondom die Canyon is ook die mees logiese. Mens verwag om nader te ry en die canyon van ver reeds te aanskou en jou daaraan te verwonder. Maar soos die natuur dit het, is die canyon 'n vallei, en dit is woud reg rondom, so mens sien letterlik niks daarvan totdat jy reg op die randjie staan nie. Dan, skielik val hierdie massiewe vallei, 1.6km op sy diepste punt, en te lank en breed vir jou om te sien, voor jou uit. Dit is asembenewend. Ons het besluit om die uitsig te spaar tot die volgende oggend, ter wille van tent opslaan en aandete aan die gang kry.

Dit is pikdonker in hierdie wêreld. In fact, dis so donker, dat ons die melkweg deur die materiaal van ons tent kon sien skyn met slapenstyd. Ons wou gevolglik vreeslik graag een aand net rustig na die sterre lê en kyk, maar mens kan net soveel dinge in 24 uur doen. Mens kan egter nie sons-opkoms mis vir die wêreld se geld nie, veral as jy loopafstand van die Canyon slaap nie. Ons eerste uitsig van die Canyon het dus as volg daarna uitgesien:

Dis hartseer, maar dis onmoontlik om die werklike skaal van die plek op film vas te vang. Daarvoor het mens video nodig. Die beste wat ons kan doen is om jou te probeer oortuig dat hierdie uitsigte MASSIEF is. Dis berge, soos Tafelberg, soos die Drakensberge. Mens het daardie gevoel van verwondering vir 'n berg in jou, maar die verskil is, die berge is in die grond, jy staan op die rand van 'n afgrond en kyk van die tippie af daarna. Dis asemrowend, dis ongelooflik.

Hierdie berge reik egter net so hoog soos wat die aarde eens was, voordat die Here in sy oneindigie wysheid met sy vinger hierdie landskap gevorm het. Ten spyte van die vele lae rots wat blootgelê is in die vallei, elk met sy eie verhaal, die satellietfoto's wat die Colorado rivier se vloei probeer bepaal, die dieptemetings, simulasies, teorieë en ander spekulasies, die rivierbed wat van die oudste rots ter wêreld bevat. Ten spyte van dit alles staan geoloë verwonderd aan hierdie skepping. Maar dis hoe God dit bepaal het,

"The waters were standing above the mountains.
At Your rebuke they fled,
At the sound of thunder they hurried away.
The mountains rose; the valleys sank down
to the place which You established for them.
You set a boundary that they may not pass over,
So that they will not return to cover the earth."
~
Psalm 104:6b-9 ~

Marésa is mal oor hierdie tipe van formasies gewees, dit lyk soos 'n heuwel van hierdie kant af, maar dit is 'n smal rif wat skerp genoeg lyk om mens se vinger oop te sny:

Pas voor die son hierdie vallei oorvloed met byna onuithoudbare hitte:

Plateau Point. Die plato daar onder, wat met 'n punt na regs vorentoe wys, is ongeveer 1000m ondertoe. Die lyn wat tot by die punt gaan is deel van die Bright Angel Trail, 'n 10km trail wat jou langs die rim van die Canyon afvat tot op die tippie van daardie plato. Om jou 'n idee van die skaal te gee, die deel van die trail wat jy daar kan uitmaak op die plato is 3km lank. Daar is nie woorde wat die uitsig vanaf daardie tippie kan beskryf nie. Maar later meer daaroor. Kyk hoe die son aan die boonste tippies hier links bo begin proe...

Ons was regtig daar, al was ons maar skaars wakker.

Daar is 12 verskillende soorte rotslae vanaf die rim tot onder in die rivier. Die rots kan dateer word en die ouderdom wissel tussen 260 miljoen jaar vir die heel boonste laag, tot 1.7 biljoen jaar vir die onderste laag. Elke laag het 'n ander kleur, met die mees kenmerkende die Redwall Limestone laag, wat die besonderse rooi kleur verleen. Alle skakerings van pienk tot geel kom voor in die die verskillende soorte Shale en sandsteen soos dit dieper in die canyon afgaan. Dit is die rede waarom mens letterlik die heeldag op een plek kan sit en jou verstaar aan die Canyon. Van sonsopkoms tot sonsonder verander die kleure en dans dit in kaleidoskoop regoor hierdie ongelooflike massiewe canvas. Dit is fantasties om te aanskou.

Daar is twee maniere om onder tot by die rivier te kom, te voet, of te muil. Die muile sorg vir 'n baie opwindende rit af, want op meer as een plek is die trail nie veel meer as 'n baie smal lysie waarop mens loop nie.

Ons het besluit om af te stap, om die omgewing in te kan asem op ons eie tempo, om te kan stop om te staar wanneer die uitsig te ongelooflik raak, soos op hierdie spesifieke oomblik:

'n Muur van Kaibab Limestone strek in die canyon in.

Kyk hierdie gat soos die sagter rots van onder weg erodeer.

By die 7km merk kom mens by die "Indian Garden", in sterk kontras met die droë sand en yle plantegroei langs die canyon af, is hierdie 'n oasis. 'n Stroompie vloei hier verby wat water voorsien vir die bome en ander plantegroei.

Die temperatuur is nou ongeveer 40 grade Celsius. So dit wil graag WARM genoem word. Gelukkig is hier ook 'n waterstasie sodat mens jouself goed kan natmaak. Die droë lug maak dat die water op jou vinnig verdamp en jou sodoende goed afkoel. Marésa is hier besig om haar hare onder die water te kry.

'n Kykie terug na die rim vanwaar ons die oggend die sonsopkoms bewonder het. Ons is nou aan die begin van die plato, met 3km tot by Plateau Point.

...en hier 'n kykie na die pad vorentoe...

Met ons aankoms sien ons dat Plateau Point regtig net 'n Point is! Mens stap oor na hierdie stukkie skynbare verbrokkelende rots om die uitsig tot by die Colorado rivier te sien.

My woorde is nie genoeg om te verduidelik wat ons beleef het op hierdie punt nie. Ek en Marésa het letterlik vir 40 minute gesit en net gekyk. Die stilte is hoorbaar, die enigste geluid wat mens hoor is 'n veraf gesuis van die rivier onder in die Canyon. Dit is nog so diep ondertoe dat 'n 16-persoon raft wat onder verbygekom het 'n blou spikkel op die water is, met die mense daarop soos kopspelde.

Hierdie is 'n foto wat ons van 4 aanmekaargestik het om jou 'n idee van hoe dit lyk, en om ons aan daardie mooi te herinner, sodat ons dit nooit vergeet nie. Kliek op die foto om 'n groter weergawe daarvan te sien. Jy kan dan terugkom na hierdie skerm deur op "Back" te kliek.

Hier's ons tweetjies by Plateau Point.

Terug by Indian Gardens het ons middagete geniet. Mens word oral gewaarsku om nie die wilde diere te voer nie, en vir goeie rede, hierdie eekhoring was so mak dat hy sommer hier in my sak kom rondgrou het. Hy wil natuurlik net nie lank genoeg stilsit dat ek hom kan afneem nie. Ek het ook aan hom probeer verduidelik dat net sissie-eekhorings mak is en dat hy meer wild moet wees, maar hy wou nie luister nie.

Terwyl ons nog so met die eekhoring sit en gesels, is daar toe 'n paar bokkies wat daar by die stroom verby kom. Hulle was omtrent net so mak, want die een het reg op ons afgestap gekom. Ek dag hy gaan kom bladskud, maar toe besluit hy om regs af te draai oor die aanliggende bankies... Ons was eintlik teleurgesteld dat dit die enigste wild is wat ons gesien het. Hierdie is mos die land van coyotes, ratelslange, tarantulas en die klas van gediertes. Ons sien toe maar net die diertjies wat mens op die ooskus ook sien.

Hier is ons nou oppad uit. Dis moeilik om te sê presies hoe moeg ons op hierdie stadium was, maar ons was verseker regtig baie moeg. :) Die opkom het ons 50% langer geneem as die afgaan, en teen die tyd dat ons bo gekom het, was ons regtig kapoets. Die 20km hike het ons 8 ure geneem, en ons het omtret 10 liter water tussen ons gedrink om die hitte af te weer. Kyk hoe mooi sien mens die verskillende rotslae daar aan die oorkant van Marésa.

Nou kyk, as daar nou een ding is waarna ons uitgesien het terug by die kamp was dit daardie lekker bottels water wat ons in die polistireenkoeler op ys gehad het. Jy kan dus die gevoel in ons moeë voete imagine toe ons terug by die kamp kom om ons koelerboks in die volgende toestand te vind. Sien ons kon nie die boks in die kar los nie, want die gesmelte yswater het deur die polistireen gesyfer. Ons dag toe dit sal veilig daar agter die kar wees. Wel, die kraaie het natuurlik die pita-brood wat daarbinne was geruik, en ons het pepperoni vroeër in dieselfde ys gehad, wat die water wat deurgesypel het so 'n lekker geurtjie gegee het. Ons neem eintlik maar aan dat dit kraaie was, die ander groot verdagtes is die eekhorinkies. Maar die determinasie waarmee hierdie boks uitmekaar getrek was en oraloor verstrooi was lyk na die kraaie se werk. Dink jou nou in na die spesifieke 20km stap, 1km afklim, 1km opklim, om nou daar op jou hurke te moet gaan sit en polistireenballetjies (eens boks) te moet optel. Grrrr... so leer jy.

Nou ja, ons was natuurlik die aand ook moeg en lus om kos in ons tawwe lywe te kry, wat daartoe gely het dat ons weer sonsonder gemis het. Dit was 'n goeie een ook, en ons is spyt ons kon dit nie sien nie, maar die sonsopkoms Vrydagmôre was selfs meer indrukwekkend as Donderdagoggend. Een van die dinge wat die geoloë bietjie aan't wonder het, is dat as jy van bo af na hierdie hele landskap kyk, dan moes die Colorado rivier miljoene jare terug besluit het om eerder oor 'n moewiese hoogtepunt te vloei as deur dit. Die rim van die canyon is baie hoër, sodat dit regtig bietjie baffling is. Psalm 104 sê egter

" He sends forth springs in the valleys;
They flow between the mountains;
They give drink to every beast of the field;
The wild donkeys quench their thirst.
Beside them the birds of the heavens dwell;
They lift up their voices among the branches...

He waters the mountains from His upper chambers;
The earth is satisfied with the fruit of His works.
He causes the grass to grow for the cattle,
And vegetation for the labor of man...

The high mountains are for the wild goats;
The cliffs are a refuge for the shephanim.

He made the moon for the seasons;
The sun knows the place of its setting.
You appoint darkness and it becomes night,
In which all the beasts of the forest prowl about.
The young lions roar after their prey
And seek their food from God.
When the sun rises they withdraw
And lie down in their dens..

Oh Lord, how many are Your works!
In wisdom You have made them all;
The earth is full of Your posessions."

Vrydagoggend het ons die pad na Bryce Canyon aangepak. Dit het behels dat ons vanaf Grand Canyon Village, wat aan die suidelike rim van die canyon lê, oos ry om rondom die canyon te ry tot aan die anderkant. Al is die canyon net 30km breed, is daar nêrens om deur dit te ry nie, mens ry 400km rondom dit. Ons het dus Desert View drive geneem, 'n pad wat al langs die suidelike rim kronkel, met baie plekke om te stop en 'n ander deel van die canyon te bewonder. Op een stop het ons egter iets baie kleiner, maar tog groot teëgekom. Hierdie is 'n by wat so groot soos 'n hommelby is, maar dis 'n gewone by! Kyk die snaakse kleur!

Terwyl ek die blommetjies en bytjies bekyk het, het Marésa in die Rough Guide bietjie opgelees van hoe ons dag verder daarna moet uitsien.

Kyk die verskeidenheid kleure hier, en vergelyk dit met die vroeër foto's, asook dié wat nog later kom.

By 'n latere stop het ons die eerste keer die rivier kon sien vanaf die rim:

Hier staan Jan en prewel: "Dis amazing... Dis amazing... Dit is amazing. Hierdie is amazing, Marésa."

Hier staan ons nou by Desert View, die laaste uitkykpunt binne in Grand Canyon National Park. Dit is sekerlik die mees indrukwekkende uitsig vanaf die Suidelike rim, sonder om in die canyon in te hike. Hierdie 7 foto's gee jou 'n goeie idee hoe dit van daar af lyk. Mensdom dit is ongelooflik. Mens kan letterlik hier ook net staan en staan en die hele dag kyk. Jy kan die rivier aan beide kante van die view sien. Aan die linkerkant vloei die rivier wes, daar in die middelste foto vloei dit noord-oos, vanaf Lake Powell (sien die Suidweste voorblad vir Lake Powell). Jy kan natuurlik ook op hierdie onderste foto kliek vir 'n groter weergawe. As jy nog nie 'n vernuftige web-surfer is nie, probeer hierdie handige tip: regs-kliek op die foto en sê "Open in New Window...". Dan terwyl die foto in die ander venster aflaai, kan jy rustig hier kom voortlees en net-nou na die foto kyk as dit afgelaai is.

Kort nadat ons uit die nasionale park is, het ons Navajo (onthou nawahou) land ingery. Dit is letterlik asof mens in 'n ander land inry. Die armoede is in mens se gesig. Maar lees meer oor die Indian Reservations by die Monument Valley hoofstuk. Op een plek kon mens afdraai en so 'n 300m by 'n dorre klippaadjie afstap tot waar ons gereken het die canyon moes begin. Op hierdie plek is die canyon ongelooflik smal en seker so 250m diep. Dit maak vir 'n baie indrukwekkende uitsig, want skielik is hier "sheer cliffs" van 250m reg voor jou tot by die rivier daar onder...

Kyk of jy die ou in hierdie foto kan spot. Daar was twee lawwe ouens wat op die rotse gespeel het, as jy die ou kan sien, sal jy 'n idee kry van die skaal. Ons sal jou 'n hint gee, kry die twee rooi pyltjies aan die kantlyn, en trek 'n lyn van elkeen af... Jip, daai rooi spikkel daar.

Kyk die goggo-robbie wat ons toe daar raakloop. Die outjie het rustig vir sy daaglikse tan gesit toe ons ons opwagting daar maak. Mensdom dit moes vir hom 'n verassing wees hoor, daar gaan letterlik NIKS daar aan nie. Dis so weird om te dink dat die spesifieke lizard elke dag op daai paadjie gaan sit. Dis sy lewe daar in die suidweste, terwyl ons hier in die Ooste bly.

Ons het middagete geniet by die klein dorpie Cameron. Ons het regtig nie geweet 'n plek kan so klein wees nie, maar ons was in vir 'n paar groot verassings hierdie week. Al waaruit hierdie dorpie bestaan is 'n vulstasie, 'n algemene winkel, 'n poskantoor en 'n hotel. Hier en daar sien mens 'n huis agter 'n bult, maar dis sover dit ook gaan. Dit was egter voldoende om vir ons lekker gebraaide hoender met pita-brood te voorsien. :) Hierdie wêreld is letterlik woestyn, die teerpad smelt onder mens se voete, die hitte vloei oor jou soos olie, dit waai met die wind deur jou tot op jou beendere.