Amanzimtoti
24-28 Maart 2002

Nou kyk, hier is nou 'n eerste vir ons. 'n Geleentheid om met julle ons Suid-Afrikaanse ervaringe te deel! Ons was in Suid-Afrika vir 2 weke aan die einde van Maart en het dit terdeë geniet! As jy nog nie die foto's van Schalk en Jana se troue gesien het nie, zirts oor soontoe sodra jy hier klaar is en kyk daarna!

Marésa het 'n diepgegronde liefde vir Amanzimtoti. Hier is waar haar gesin soveel vakansies gedurende haar jeug deurgebring het, sodat al daai mooi vakansieherinneringe wat meeste van ons mee rondloop, vir haar met Amanzimtoti se strand vervleg is. Sy het 'n wonderlike liefde vir die see. Maar nie sommer enige see nie, die see daar by Toti.

Ons het in Stella Maris gebly, hier is ons uitsig:

 

Julle ken seker almal Toti ne? Wat ons so opgeval het is die hoeveelheid Afrikaans wat mens rondom jou hoor. Dit is ongelooflik, veral vir ons ongeoefende ore. Dit het skoon gemaak dat Marésa ekstra hartseer was hierdie jaar om terug te kom USA toe. Hier's ons almal lekker oppi beach!! Dit was op St. Micheal's. Vlnr is Ma Kowie, Pa Johan, Ouma en dan Marésa!

Aaahhh, lekker strand. Mensdom dit lyk gaaf!

Daar moet iets grootliks terapeuties wees aan sandkasteel bou. Verseker vir hierdie ouens, want hulle het 'n groot deel van die laagwater oggend geswoeg aan hierdie meesterwerk. Maar as jy daar aan die linkerkant kyk sal jy sien die water het reeds begin opstoor om hulle skepping te kom vermorsel. Hulle het hulle egter nie gesteur aan die massas water wat oppad was nie, en het lustig voortgebou. Ons kon nie bly vir die einde van hierdie kasteel nie, dit sou te tragies wees.

Ons het heerlik gaan uiteet die aand by "Tropical Oasis".

Ek en Ouma by aandete! Ek het Ouma omgepraat om 'n stukkie Kalamari te proe, maar sjoe! Kyk, sy het daai ding so vinnig weggesluk dat sy dit beswaarlik kon proe. Soos my Pa sou, hy "eet nie sulke GEITERS" nie. :))

Hier is die aand vanaf die balkon, met die see net verlig deur die maanlig. As mens jou skerm baie helder maak, kan mens so paar sterretjies daar in die regterkant bo sien. :) Cool ne.

Kyk, die eerste oggend wat ons by die huis was, het ek vroeg opgestaan en agter op my ma-hulle se stoep gaan sit, en elke sintuig het vir my vertel dat ek by die "diep-in-jou-hart"-huis is. Dit is dieselfde gevoel wat ek gekry het hier op die strand hierdie oggend. Bietjie vlakker in die hart, maar tog diep diep. Hierdie 5:48.

Hierdie vistermannetjie staan gereed vir die groot vangs. 5:55.

Hierdie vistermanomie ook. 6:01.

Hier is die son nou gereed om deur te breek, 6:05am.

Die vistermanspan gereed om grootliks vis te vang. 6:09.

As jy mooi kyk op hierdie foto sal jy 'n skip sien wat op die horison geanker lê. Hy't tot die aand nog daar op dieselfde plek gelê. 6:11.

Nou kom die son bo die streepwolke oor die horison uit. Dis nou regtig dag. 6:13.

Ek het 'n lekker swem gevat in die swembad, wat genuine lekker was. Mensdom, dit is iets wat mens elke dag moet doen as jy daar bly. Hier op die regterkant is nou Stella Maris, waarin ons gebly het. 6:15.

Kyk hierdie dom knapies wat nou swem. Hulle het seker vergeet dat die sjarks hierdie tyd van die oggend lekker honger is en op soek is na 'n sagte stukkie vleis.

Kyk, een ding wat verseker is, is dat Suid-Afrika darem darem 'n mooi land is. Die eerste keer wat ons gaan vakansie hou in Suid-Afrika, gaan ons vakansie hou in die Drakensberge. Hierdie is op daardie een pas oppad terug.

Die velde lê wit van die kosmos.

Ons het middagete genuttig bo-op die berg. Mensdom kyk, dit is 'n ongelooflike uitsig. Ek is so bly hierdie panorama foto het so mooi uitgekom! Dit is vier foto's wat aanmekaargestik is met die rekenaar. Omdat mens soveel van die uitsig verloor, is daar 'n groter weergawe as jy op die foto kliek. Ek wens ek het geweet wat mens hierdie vallei noem.

Ons het lekker gesit en middagete geniet by 'n uitsig wat darem maar skrik vir niks hoor!

Met die wind wat so woes gewaai het, het sommige van die rommel oor in die vallei afgewaai. Nou ja, skoonpa skrik toe vir niks en laat wiel langs die kant af en gaan red die rommel.

Ek het darem my deel ook gedoen in die Rommel Redding Missie. [Keelskoonmaak, bloos...]

Sien daai Rondawels? Ek en my vroutjie gaan in daai Rondawels slaap. Verseker!

Yithi Esanqoba, Omanqoba Lonkizwe!!! "We are the Conquerors, we have conquered the world!!!" Eerste ding wat ons doen as ons terug is: Leer Zulu.

Hier's ons tweetjies voor die vallei.

Dit dan die Sterkfontein Dam! Jitte mensdom, die water was so 'n ongelooflike kleur daardie dag. Die Sterkfontein dam is in twee fases klaargemaak, eerste in 1980, die tweede in 1986, met die doel om Gauteng met water te voorsien tydens droogtes, omdat Kwazulu-Natal gewoonlik baie water het. Die Sterkfontein dam is die enigste dam in Suid-Afrika wat kwalifiseer om gelys te word in the Icold Register van die wêreld se grootste damme. Al is dit nie die grootste in SA nie, is dit die enigste met 'n damwal ontwerp wat dit vir die Register kwalifiseer. Die damwal is 3km lank en 100m hoog, en die sluise was oop toe ons verby gery het, aai, dis 'n foto wat ek ook sou like om te neem!