
Ons derde huweliksherdenking is die eerste een wat ons ordentlik kan vier! Die ander twee was ons elke slag op die vliegtuig terug van Suid-Afrika af. Hierdie jaar het ons egter nie Suid-Afrika besoek oor Desembermaand nie, so ons kon ons eerste ordentlike huweliksherdenking vier. Ons het besluit om 'n romantiese mini ski-wegbreek vakansie te neem na die Catskills in New York. Die Catskills is 'n groot "State Park" in New York met talle ski-oorde en beskermde woude.
Windham is 'n ongelooflike klein dorpie wat in die hartjie van die berge lê. Ons kon nie 'n beter plek kies vir hierdie naweek nie, ons het regtig so geseënd gevoel. Ons het in die mees ongelooflike "inn" gebly, Albergo Allegria. (Gaan besoek dit gerus deur op die naam, of op die prentjie hierbo te kliek). Dit was die ideale plek gewees vir ons doeleindes! Die kamer was pragtig, met ons eie kaggelvuur en 'n donsveer duvet! Die gebou is in 1876 opgerig as 'n "Bed & Breakfast" en is lieflik onderhou. Die ontbyte was veral ongelooflik, met besondere kreatiewe omellette wat voorgesit is. Ek het die Vrydagoggend 'n omelet gehad met geroosterde rooi soetrissie en artichoke hearts.

Ons het 'n goeie bottel Suid-Afrikaanse rooiwyn saamgeneem saam met lekker kasies en beskuitjies, asook 'n boks sjokelade om die aande na die ski lekker voor die kaggelvuur te sit en kuier. Dit is presies wat ons gedoen het! Marésa was behoorlik in haar element voor daardie vuur hoor. Daar is nêrens beter om te kon wees as uitgestrek op die sagte mat na 'n lang dag se ski nie!

Anyways, die SKI!!! Dit was nou die heel meeste pret ooit. Ons kan nie wag om weer te gaan nie. (Marésa het intussen weer gegaan saam met 'n vriendin en dié slag gaan snowboard, so nou is ek EERS opgewonde om weer te gaan). Dit was so so lekker hoor. Ons het Woensdag seker so 12:00 se kant by die berg aangekom en toe lesse geneem.
Kliek op die lift ticket hierbo om self bietjie te gaan ski by Windham Mountain!

Dit was baie bewolk toe ons daar aankom en het liggies gesneeu, maar dit was die perfekte weer. Ons reken nie eens 'n volslae sneeustorm sou ons kon stop nie hoor! Hier is die ski-lodge onder aan die berg, waar mens jou ski's en dinge kry:

Mens stop so naby aan die lodge en as jy regtig cool is en jou eie ski's het, dan kom laai jy eers jou ski's hier af teen die houtpale. Ons het so gemaak die tweede en derde dag, want ons het ons ski's later by 'n skishop in die dorp gehuur omdat dit goedkoper was.

Dit het so goed uitgewerk omdat dit in die middel van die week was. Ek en Maresa het 'n instrukteur net vir die twee van ons gehad. Hy het 2 ure met ons spandeer wat hy ons al die basics geleer het. Dit was so goed, want ek het besef dat niks van die ski het natuurlik vir my gekom nie, ek het alles toegepas wat hy vir ons geleer het. Dit is regtig nie so moeilik nie, maar dit vat mens 'n rukkie om die "hang of it" te kry, julle weet. Ons het die hele Woensdag net op die klein heuweltjie gebly waar hy ons geleer het en heeltyd net ge-oefen. Dis half moeilik in die begin, want jy moet afdraend leun as jy weg vanaf die afdraend wil draai, so dit voel half onnatuurlik. Hier kom Marésa aan, mens kan sien sy leun nog half verkeerd, maar sy het later baie goed reggekom hoor!

Na haar eerste suksesvolle heen en weer draai, kom sy veilig onder aan met 'n baie groot glimlag! Die instrukteur in die agtergrond is besig om haar aan te moedig en te vertel hoe om te maak.

Kyk net hierdie oulike huisies reg op die slopes hoor. Hoe lekker moet dit darem nie wees om daar te bly nie! Ek het ook nie eens nodig gehad om handskoene te dra nie, die weer was warm genoeg gewees. Dit het ook gemaak dat die sneeu papperig was, maar dit was baie lekker vir ons. Ons goeie vriende Dan & Missy het ons omtrent toegerus met al wat nodige waterdigte klere is.

Hier staan ek onder aan die "bunny hill", soos die klein heuweltjie genoem word waar hulle mens leer.

Nou kyk nou net hoe cool is ons hoor. Ons eerste dag se ski het suksesvol afgeloop! Ons was nie eenkeer met 'n lift op tot bo nie, ons het die prettighede maar gespaar tot die volgende dag, ons wou darem eers mooi seker maak ons verstaan die werk!

Toe Donderdag is ons die oggend eers weer op die heuweltjie en na so halfuur toe pak ons die eerste slope aan. WOW. Hiers is Maresa besig om haar gear aan te kry.

En hier is Jan op sy ski's!


Hahahahaha ek kan dit nou nog so goed onthou. Die eerste keer toe ons nou die regte slope aanpak. Die begin was nie so erg nie, maar die slope eindig met so laaaaaaang baie styl afdraende. Nou mens maak seker jy gaan nie te vinnig nie deur zig-zag af te gaan. Maar omdat ons nog nie so vernuftig met die draaie was nie, het ons maar so half en half 'n reguit pad afgegaan. Maar sien die probleem met reguit afgaan is jy gaan al hoe vinniger en vinniger! Ek het eerste gegaan en jitte, ek het HOND HOND HOND vinnig gegaan!! Ek was maar baie baie skrikkerig hoor! Toe ek onder kom en gestop het en alles toe kyk ek om om Maresa te waarsku, ek soek haar maar toe het sy net begin, maar so halfpad ondertoe toe besluit sy eerder as om nog vinniger te gaan, gaan sy maar liewer hier grond toe en slaat daar neer dat jy net ski's en pale sien spat hoor! Ek het nogals groot geskrik, maar die sneeu is gelukkig baie sag. Die Here het ons ook werklikwaar beskerm, want kyk, sommige van die valle wat ons gehad het was darem maar woes hoor. Selfs die lifts is prettig, dit is sulke kabelkarretjies waarop jy gaan sit en dan ry jy boontoe. Jy ski so in 'n ry in, dan kom die karretjie van agter af op en dan gaan sit jy in hom, dan sit jy nou so met jou ski's en al in die stoel tot jy bo kom. As jy bo kom dan kom daar so heuweltjie aan wat tot regonder jou kom, hoog genoeg dat jy kan opstaan en dan ski jy weg voor die karretjie uit en dan is jy bo.

Hier's Mr. Coolio met sy donkerbril en mussie op die lift:

Op een stadium Donderdag het Maresa 'n bietjie van 'n breuk gevat. Sy het op daardie stadium net een maal te veel al geval en wou nou begin dink aan huis toe gaan. Sy het toe vir my gewag terwyl ek weer by so 'n laaaang 2.5 myl (3.6 km) slope afgekop het. Ek's die swart spikkel daar in die middel van die wit!

Let op die pale wat langs die sneeu is. Dit is waarmee hulle sneeu in die aande maak. As dit koud genoeg in die nag is, spuit hulle baie fyn water hier uit wat dan vries voor die op die grond kom en letterlik sneeu is. So maak hulle seker dat daar altyd genoeg sneeu (en gevolglik mense wat ski) is. Hierdie is nou die lang afdraende waar ons afgegaan het heel in die begin, ek is weer die swart spikkel!

Ek het later die dag op daai afdraende geval dat ek rol en tol hoor, soveel dat ek net hoor hoe die mense daar bo vanaf die kabelkarretjie lifts vir my lag. Teen Donderdagmiddag het ons altwee egter begin voel asof ons dit nou regkry, en toe het ons dit regtig baie begin geniet. Hoe beter mens met dit raak, hoe meer pret is dit, want dan kan jy heen en weer gaan en jy kan stop waar jy wil en gaan waar jy wil en so vinnig soos jy wil en alles. Mensdom dit is so 'n goeie ervaring gewees. En hier kom my vrou met 'n vernuftige draai tot 'n stop na 'n suksesvolle sessie:

Vrydag-oggend besluit ek toe mos ek wil 'n slag weer alleen opgaan. Terwyl ek toe op die lift is, is ek weer tipiese toeris en begin foto's te neem van alles wat ek sien. Hierdie lift vat 'n mens na die heel bokant van die berg toe, waar mens die 2-myl slope begin afski. Daardie masjien daar onder is ook 'n sneeumakerdingetjie. Maar sien nou kom die storie. Terwyl ek so lustig sit en foto's kliek, kom ek nie agter dat een van my ski-pale afval nie! Toe ek halfpad bo kom, besef ek ek mis 'n paal. Die strooispul is egter hierdie slope wat reg onder die lifts is, is 'n swart diamantjie, wat beteken dit is baie baie moeilik om te ski. Nietemin is die slope ook toe gewees, hoekom weet ek nie, so ek sou nie eens daar kon afski al het ek geweet hoe nie. Ek ski toe maar weer tot onder, haal my ski's af en begin daardie berg uit te klim met die swaer skibootse aan. Nou kyk, dit was nou nie so baie pret nie. Omdat die slope nog nie oop vir ski is nie, is die sneeu baie poeierig en le omtrent so kniediep ook nog. So dis amper soos om opdraend in water te hardloop. Dis ook regtig net deur die genade van die Here dat ek daardie ski-paal gekry het, want omdat die sneeu so sag is het hy diep ingeval en mens kon beswaarlik sien waar hy ingeval het. Maar nou ja, dit het net bygedra tot die avontuur van die dag!

Die weer was regtig baie nice gewees toe ons daar was. Dit was eintlik alle soorte. Woensdag was dit oopgetrek en lieflik buite (net nadat ons by die berg aangekom het, want toe ons by die inn aangekom het was dit besig om so liggies te sneeu - te pragtig). Vrydag was dit bewolk en het dit baie gesneeu deur die dag, so as jy bo kom gaan jy reg in die wolke in. Dan is dit soos 'n digte mis waarin jy die eerste paar honderd meter ski. Die sneeu is poeierig en droog omdat dit kouer is. Soos jy afski verander die klimaat en word dit warmer en word die sneeu heeltemal anders, tot onder waar die sneeu teen Vrydagmiddag baie nat en amper slushy was. Dit is net so amazing, dat jy in 'n kwessie van 10 minute hierdie skielike verandering in jou omgewing sien omdat jy so ver afgaan. Jitte nee dit was lekker.