
Vir diegene onder julle wat wonder hoe op deeske aarde ons 'n totale bladsy kan afstaan aan 'n kersboom, hierdie bladsy is vir julle. Sodat julle kan sien hoekom ons 'n totale bladsy daaraan wil afstaan. :) Ons doen dit want dis ons eerste regte kersboom! Ons het hom self gaan uitsoek tussen al die ander bome op die kersboomplaas, hom self afgesaag en alles. Ja nee, toegegee, dit is half hartseer om te dink ons het die 13 jaar-oue boom afgesaag om 'n maand in ons huis te staan en dan weggegooi te word, maar dit was darem die uitsluitlike doel waarvoor die spesifieke boom 13 jaar gelede geplant is. Anyways.
Ons het 'n goeie 45 minute na die kersboom plaas toe gery en daar aangekom met 'n halwe skemertyd! Dit beteken dat ons in woeste donkerte die boom moes uitsoek. Ons het dit toe maar so voel-voel gedoen en na 'n aantal eina steke van die skerper naalde en taai vingers van die gom-modelle het ons hierdie een gekies. Die ou oom en tannie by die plaas het dit vir ons so in 'n net toegedraai sodat dit makliker kan vervoer:

As mens klaar die net afgehaal het dan kan jy hom nou beginne versier. Sien ons het laasjaar by Eric en Lis en ook by Jason & Andrea kersboomversierings gekry. Dit is nou nog nie so baie nie, maar dit tooi darem ons boom so bietjie. Ek het sommer so paar foto'tjies geneem van die versierings en van die boom, wat ons vir julle wil wys.



Hierdie boonste twee houtversierings is uit olyfhout in Bethlehem gekerf! Andrea het dit op 'n "Weinachtsmarkt" in Duitsland vir ons gekoop laasjaar met Kersfees. Dit is oulik ne!

Dis Rudolph, ons versiering wat ins by Eric & Lis gekry het laasjaar. Daar is goetertjies in die sakkie wat dit na 'n denneboom laat ruik.

Hierdie twee foto's is ek sommer net so bietjie trots op so wil dit afshow. :) Bo is 'n goue bokkie wat Marésa hierdie jaar vir ons gekoop het, onder is die liggies wat op 'n silwer bal skyn. Dit was in die donker. Dit lyk mooi né?

Siende dat ek al my kersinkopies gedoen het, kan ek nou al Marésa se geskenkies onder die boom sit, en dit maak haar natuurlik mal! Dis pret!

Marésa se kollegas het hierdie kersversiering vir haar gekoop, ter herdenking aan die feit dat sy in 2001 apteker geword het. Oulik ne!

Hier is al ons geskenkies nou onder die boom, met kersaand, net voor ons dit oopgemaak het!
