New York City
7 Desember 2001

Die naweek is ons New York City toe omdat dit 'n baie goeie vriendin van ons se troue was - Cara. Nietemin, ons het saam met Eric en Lis die geleentheid gebruik om die Vrydagoggend reeds Newark, NJ toe te ry en daar in 'n hotel in te boek. Daarna is ons na New York City met die moltrein om die aand 'n Broadway opvoering te gaan kyk - Phantom of the Opera.

Die middag het ons egter eers "Ground Zero" gaan besoek, die hoop rommel waar die World Trade Center torings eens gestaan het. Dit is ongelooflik hoe baie die stad moes verander. Die torings het 'n massiewe stasie in hul basement gehuisves - die is uit die aard van die saak gesluit, asook die tonnel wat onderdeur die Hudson rivier vanaf New Jersey in Manhatten ingery het tot by hierdie stasie.

Ek onthou een slag het ek op die TV gesien hoedat mense in Wall Street afhardloop, met Trinity Church in die agtergrond. Die volgende oomblik het die kerk onder 'n MASSIEWE wolk stof en gemors verdwyn en die wolk het in Wall Street afgerol soos 'n vloed modderwater wat deur reuse sluise breek. Ons het dus ons toer in Wall Street begin en geloop tot by Ground Zero, ongeveer 5-7 blokke weg.

Wall St. is egter silwerskoon. Hier loop Marésa, Eric en Lis vooruit. Ons was oor die algemeen verbaas hoe skoon alles is, die geboue en al. Dit moes 'n ongelooflike werk gewees het, maar mense werk ongelooflik hard om dinge weer terug tot normaal te bring.

New York Stock Exchange se facade is so opgedoen. Dit lyk ongelooflik ne? Dit is so kenmerkend van hierdie tyd hoor. Jy's lankal nie meer cool hier as jy nie op een of ander manier uiting gee aan jou patriotiese oriëntasie nie. Dit beteken dat daar vlae oraloor is. Mense is nou meer as ooit trots om in hierdie land te woon. Trinity Church het niks oorgekom nie. Dit is ongelooflik, maar waar.

Hierdie is twee blokke vanaf die rampgebied. Kyk hierdie groot gebou is totaal togemaak onder 'n doek. Marésa reken dit is vir die stof van al die doenighede rondom die rommel.

Op Broadway St. 2 Blokke vanaf WTC site. Hierdie klas van "Memorials" sien mens oral. Daar is plakkate van skoolkinders vanaf Ohio tot Californa, van Illinois tot Florida. Daar's droë blomme, foto's van mense wat dood is in die gebou, briefies deur kinders aan die ouers wat hul verloor het, daar's nota's deur verbygangers van alle lande en kulture. Daar is soveel verskillende emosies op hierdie mure dat mens amper nie wil lees nie. Die treffendste is gediggies opgedra aan 'n geliefde, of opgedra aan NYC, aan Amerika, aan brandweermanne. Of stukkies wat gepen is oor wat mense gevoel het op daardie dag. Daar's bundels vol klein stories wat almal dieselfde hartseer en verlies op soveel verskillende maniere oordra.

'n Groot "Hole in the Sky", waar die WTC One eens gestaan het.

Die eerste tekens van verwoesting wat ons kon sien, hierdie "dome" wat swart gebrand en stukkend is.

Die straat is toegemaak net regs van hierdie winkel. Die hele gebou is pikswart, en die neonligte verklap die rigting van waar die skade gekom het.

Hierdie is een van die kragtigste beelde wat ons gesien het. Mens kan nog verby hierdie area loop en dink dat hier net konstruksie aan die gang is. Maar as jy gaan stilstaan en kyk na hierdie oorblyfsel van daardie eens imposante gebou, dan ruk dit jou tot stilte. Ons wys hier onder vir julle twee van die foto's wat ons geneem het met ons vorige besoek aan New York, 1 September 2001.

Die kontras is hartverskeurend.

Hierdie is die ander aangesig wat mens ook die omvang van hierdie tragedie laat besif. Daardie twee massiewe stootskraapgoeters probeer hulle bes, maar dis amper soos 'n kind wat in die sand speel op die strand, te naby aan die water. Hulle grou en grou, maar dit lyk nie of hulle iewers kom nie. As mens sien hoe daardie gebou in die agtergrond lyk, dan kan jy net dink met watter geweld die gebou neergekom het.

Hierdie teken is op by die ingang na Ground Zero. Ek dag dit was interessant.

Die aand op Broadway, naby aan die teater wat ons sou besoek, het hulle hierdie memorial opgehad. Ons het aandete genuttig by 'n Italiaanse restuarant op Broadway, baie goeie tuisgemaakte pasta gehad!

Na aandete het ons 'n vinnige draai by die Rockefeller Center gaan loop. Die maklikste manier om op TV te kom is om net in die oggend hier op die straat rond te loop. NBC se studios is hier in die Rockefeller Sentrum op die grondvloer, met reuse vensters wat agter die verslaggewers op die straat uitkyk. So, mens moet net buit die venster staan en spring en waai en vlaggies maak en goed, dan sien almal op die Good Morning America show jou! :) Hulle versier al die bome in die omgewing alte fraai. As jy egter REGTIG mooi kyk op die foto hier bo, sal jy sien daar is sulke reuse rooi kersboom versierballe wat daar tussen die bome opgestapel staan. Die Amerikaners hou vreeslik baie van versier rondom kersfees. Nie net besighede nie, maar in elke woonbuurt waar mens rondry, is elke liewe huis omskep in 'n Krismisboom!

As jy al ons bladsy oor ons Kersboom gesien het, dan't jy 'n 12-13 jarige kersboom gesien. Wel, daar is een spesifieke ou (nogal 'n alumni van die University of Delaware) wat se werk is om elke jaar deur die jaar die Rockefeller Christmas Tree te soek. Hy gaan soek 'n behoorlike groot boom iewers in Amerika wat oor Kerstyd in die Rockefeller Sentrum se plaza kom staan. Hoe hulle die moewiese boom in een stuk hier kry weet net hulle. Dan versier hulle die boom met liggies en goete, maar dis natuurlik nou 'n MOEWIESE boom. Hehehe, ons was nou nie so totaal beindruk nie, maar dit wil darem nogsteeds gedoen wees hoor!

Hierdie opelug ysskaatsbaan in die Rockefeller Sentrum is 'n baie beroemde plek. Dit is iets wat almal jou aansê om te doen oor die wintermaande. Dit lyk regtig baie lekker, al het ons nou nie kans gehad om 'n spin te gaan vang op die ys nie! :))

Kyk hier kan jy nou die dik boomstam van die groot kersboom in die agtergrond sien. Op die voorgrond is 'n fontein wat langs die yskaatsbaan vertoon. Kyk, die Kersfees "gees" loop hoog hier, almal is in die "holiday spirit". Dit maak mens eintlik hartseer, want Kersfees gaan oor soveel meer as net hierdie liggies en die musiek en dinge, maar vir soveel mense is dit waar dit eindig, en weet hulle nie die ware "reason for the season" nie.

Kyk al die vlae rondom die ysskaatsbaan!

Nou ja, van hier is ons terug na die Majestic Theater, waar ons Phantom of the Opera gaan kyk het. Julle, dit was iets ongelooflik. Die mense is ongelooflik wat dit gespeel het. Ek weet nie, ons het ons aan alles verstom, die verhoog, die dekor, die manier waarop hulle die dekor verander en hoe goed hulle dit doen, die "special effects", mense se sangvermoëns. Alles was vanuit die boonste rakke, dit is 'n ervaring wat mens nie kan beskryf nie.

Mens word baie streng verbied (deur die wet) om enige foto's te neem terwyl die show aan die gang is. Ek wou toe dus nou nie in die pouse foto's met die flash aan neem nie, so het probeer om my hand so stil as moontlik te hou, sodat julle kan sien hoe die teater binnekant lyk:

Die gordyn se rooi skynsel is natuurlik nou omdat dit net 'n baie rooi gordyn is, hy was nou nie regtig aan nie. Anyways, daardie moewiese kandelaar wat daar bo hang, is aan kabels vas wat in een van die tonele dit tot op die verhoog laat val. Die ding is huge! Anyways, julle kan (amper) sien dat dit die verhoog baie mooi versier is aan die buitekante.

Die linkerkantste aansig. Dit is so snaaks, want ons het ons kaartjies voor die tyd oor die telefoon gekoop om seker te maak ons kry plek. Wel, toe ons by die teater kom om die kaartjies op te tel, kom ons agter ons sit amper heel heel agter op die boonste mezzanine van die teater! In fact, ons het in die derdelaaste ry gesit. Die twee rye REG agter ons, het 'n skamele $35 pp goedkoper aan hulle kaartjies betaal, omdat hulle kwansuis heel agter sit! Ek was so lus om net eenkeer om te draai en die mense agter ons te laat weet dat hulle regtig nie sleg hoef te voel oor hulle seats nie, want ons het baie meer as hulle betaal en ons sien net so goed soos hulle :). Maar julle, dit is regtig die moeite werd, selfs daardie plekke waar ons gesit het, die uitsig was nogsteeds baie baie goed. Mens kon nou natuurlik net nie die detail op die mense se gesigte uitmaak nie, of bv. die grimering van die Phantom wat sy verwronge gesig wys nie. Maar mens kon baie goed hoor en mens kon verder baie mooi sien. Dit was regtig die moeite werd.

Na die tyd toe wil foto's neem met ons in die voorgrond en die verhoog in die agtergrond, maar ons het nie besef dat dit so bietjie donker is en die flits net ons sal optel nie! :))

Hahaha ek lyk so bietjie verskrik want daar het 'n sekuriteitswag gekom en ons begin wegjaag omdat ons nog in die teater is. Ons was die laaste mense nog daar en hy wou opsluit. Hy't van onder af geskreeu "I do not like to repeat myself, PLEASE leave the theater", en in ons rigting begin stap toe ons die laaste foto's neem. Ons het toe maar net mooi gesmile en dankie gesê toe ons verbystap. :))

In die moltrein oppad terug na Newark, NJ toe was die twee hasies so moeg dat hulle 'n nap moes vang! Hahahaha daardie pet het 'n snaakse storie! Die NY in wit is 'n bekende teken van New York, mens sien dit mos oral op t-hemde en goete. Maar sedert 9/11 sien mens oral regoor die stad verkoop hulle T-shirts wat FD NY PD op het (Fire Department, New York Police Department). Natuurlik die kapitaliste wat geld vanaf die hele ou storie wou maak. Twee ouens het Eric en Lis betrek daar in die Rockefeller sentrum en het die pette op 'n baie skylie manier aan hulle af probeer smeer! Op die einde was hulle so moeg vir die ouens dat hulle maar een gevat het :).

Hierdie was ons uitsig vanuit ons hotelkamer. Die Manhatten se Midtown skyline is mooi in sig daar, met die Empire State Building. Die World Trade Center torings sou nie op hierdie foto wys nie, hulle was meer na die regterkant toe, na Downtown Manhatten toe. Die voorgrond wys mooi hoe 'n lelike plek Newark, New Jersey is. New Jersey is die Vaaldriehoek van Amerika, net 'n duisend maal erger, alles een groot industriële plaas. Daar is ook baie mooi dele van New Jersey, maar mense in Amerika ken dit nie, want hierdie is al wat jy sien as jy deur NJ op die snelweg sien, so daar word altyd met mense gespot wat van hier af is. NJ is natuurlik ook die tuiste van die baie berugte "Meadowlands", die massiewe, massiewe rommelhoop van NYC, waar hulle reken Hoffa se lyk weggesteek is. Anyways, die Meadowlands is 'n heel ander storie.

Hier is die dames in alle erns in voorbereiding vir die oggend se troue. Cara en Dennis se troue was om 12:00 die middag in Shrewsbury, so 'n uur weg van waar ons in Newark was. Dit was 'n baie baie smart troue, sekerlik die duurste waar ons nog was! Maar ons vertel jou anderdag meer daarvan...