

Ons het die middag ons planne verander. Sien, 23 November is 'n baie groot inkopiedag in Amerika. Dit word genoem "Black Friday" omdat dit die dag is waarop meeste winkels weer die geleentheid kry om al die rooi lettertjies in hul boeke weer swart te maak. So daar is ongelooflik baie sales en dinge aan die gang. Ons wou die dag na Baltimore gaan om die akwarium te gaan besoek, maar het bietjie vasgeval in die winkels en het regtig toe net die middag vir pret oorgehad! Daar wat ons toe besluit het hierdie sjoppieng is sommer simpel nou gaan ons bietjie speel ook.

Die Brandywine River Museum is in die Brandywine vallei, 'n baie mooi gedeelte hier net noord van Delaware. Dis vir ons die lekkerste om daar te gaan verlore raak, want die paaie kronkel op en af deur digbewoude "estates" wat mens laat vergeet van die res van die samelewing. Die museum huisves meestal werke van die Wyeth familie, 3 generasies van kunstenaars wat baie beroemd in Amerika is. Die oupa, N.C. Wyeth, is wêreldwyd bekend vir sy illustrasies in boeke rondom die draai van die eeu. Andrew is tweede, laastens is James Wyeth, wat vandag nog daar woon en skilder. Die museum is gehuisves in 'n ou gebou wat sekerlik eens 'n ou meule was, reg op die oewer van die Brandywine rivier.

Hier staan Marésa en koekeloer vir iemand.

Dit is nou tipies 'n plaaslike museumpie, mens verwag nou nie om 'n Van Gogh hier raak te loop nie, maar nietemin is dit 'n baie aangename agtermiddag! Die dag wat ons daar was, was die eerste van 'n uitstalling wat hulle "Christmas Critters", dit is spul kersbome wat versier is met die oulikste versiersels wat ons nog raakgeloop het:

Alles is so van natuurlike goete bymekaargeslaan. Te kostelik hoor.



Hier's die wyse man ook! Dit is baie klein, seker so 10-15 cm hoog, maar so goed gedoen. Marésa wou net weet waar mens dit kan koop, maar dit was nie te koop nie :(.

Hier's 'n hele skoen/boomhuis scene ook.
Ons het die middag rustig deur die museumpie gestap. Daar is besonderse stil-lewe werke, asook natuurlik baie van die werke van Wyeth. Van die goete mag mens natuurlik nie foto's neem nie. Een van die bekendste werke van Jamie Wyeth is die vark hier aan die bokant van die bladsy. N.C. Wyeth is egter die groot meester gewees, alhoewel ek nie van sy bekendste goed kon kry op die internet nie. Hier is egter een, "The Giant":

Van die ander uitstallings was o.a. 'n hele gedeelte met kunswerk rondom die storie "A Christmas Carol", deur Charles Dickens. Dit was baie interessant gewees. Van ons gunstelinge het ingesluit landskappe wat gedoen is met 'n medium wat ek nie nou meer kan onthou nie, maar dit behels in elk geval dat jy pigment met eiergeel meng en dit dan so aanwend. Daar was een so skildery wat ongelooflik was.
Besoek gerus die museum op die web, of as jy nuuskierig oor die Wyeth familie se werke is, gebruik gerus die Google soekdingetjie hier onder.