Rehoboth Beach
30 Maart 1999

'n Djenjin UFO

Op pad na Dover vanaf Newark ry mens verby 'n vliegveld waar hierdie aardige stukkie konstruksie homself bevind. Jason het grootliks in die kar oppad daarna verduidelik van die CIA en FBI en wat wat nog se top secret equipment wat hulle hier kom bêre het. :)

Dit is egter 'n klein woonstelletjie. Kompleet met toilet en study en wat wat nog. Wie daar bly weet niemand nie. Lyk in elk geval nie of hy nogsteeds daar bly nie, miskien is hy terug na die sterrestelsel waarvandaan hy gekom het...

Lewes

Lewes is 'n klein dorpie geleë in die Delaware Baai. Dit is genuine 'n pragtige dorpie, soos hierdie foto nie uitbeeld nie. Die dorpie is oortrek met klein antieke winkeltjies, ook nie te vinde op hierdie spesifieke foto nie. Dit is 'n tipiese toeriste dorpie, omdat dit nog nie amptelik somer was nie, was daar nie eintlik winkels wat oop was nie. Almal kom net in die somermaande hierheen!

Hier staan ons en Jason toe nou met die Delaware River in die agtergrond, dis is dan nou net voordat die Delaware River die Atlantiese Oseaan word. Ons sal wel nog eendag teruggaan om grootliks foto'tjies van die dorpie te neem. Dit is regtig pragtig.

Dolles Salt Water Taffy

Salt Water Taffy is seker maar toffie. Jason het met sy Amerikaanse charm die vriendelike dame agter die toonbank gevra of ons een of twee toffies kon try vir proe. Dit proe soos nougat-gegeurde toffie.

Hoe dit ookal sy, Dolles is een van oudste gemorskos en lekkerny winkeltjies in Rehoboth Beach. So ja, dit is waarnatoe ons eintlik daardie dag gegaan het!

Rehoboth Beach is een van die meer gewilde en tradisionele strande in Delaware, ongeveer 2 ure van Newark af. Tipies met boardwalk en elke ding. Siende dat dit egter nog Maart was en gevolglik bietjie koel, het ons maar net bietjie rondgeloop op die sand en die aand in 'n klein restaurantjie aandete geniet.

Jason en Andrea en die Belaglike Surfer

Hierdie foto het gesorg vir groot prettighede daardie dag. Ons kon ons lag nie hou vir die swart spikkel daar in die water nie. Dit is een erg ambisieuse surfer wie se verlange na die somer bietjie die oorhand van hom gekry het.

Dit was 'n simpel winderige dag en ongemaklik koel gewees. Die golfies het beswaarlik daarin geslaag om hulself een voet bo die waterlyn te beur voordat hulle lusteloos omgeplons het. Nietemin het hierdie spesifieke Amerikaner geduldig op sy surfboard in die enkeldiep water rondgedobber tot daar 'n golfie kom wat lyk of hy dalk iets kan wees.

Dan het die man vreesloos sy surfboard bestyg en daardie skuimende wattermassa gesurf vir die volle meter wat dit hom ver sou neem, waarna die blote afwesigheid van momentum hom tot 'n sieke stilstand in die sand gebring het...

Ons tweetjies op die bahd-whak

Dit dan die Boshoffs vir hul amptelike "ons was by die see by Rehoboth Beach" pose.

Die Boardwalk

Dit dan nou amptelik die boardwalk by Rehoboth Beach.

Blousilwer Sonsondergang

Sonsondergang hierdie spesifieke dag was pragtig vir die kleure wat in die lug gehang het. Die wind het gaan lê teen hierdie tyd en die see het in 'n kalm blousilwer spieël verander. Dit was regtig mooi, met die maan wat nie kon wag dat dit donker word nie.

Skeepswrak

Die pale in die see dui 'n ou skeepswrak aan. Jason kan 'n tyd onthou wat mens nog dele daarvan kon sien tydens laagwater. Dit is egter nie nou meer daardie tyd nie...

Dit was maar net oulik om daaraan te dink, siende dat die skip iewers in die 16de eeu gesink het!