Honeymoon
9-16 Januarie 1999

Ons eerste aand het ons in 'n hotel in San Lameer gebly. Ons het Durban toe gevlieg direk na die troue ('n hengske gejaag!) en vandaar die gehuurde motor na San Lameer toe bestuur. Die mense daar was al te gaaf - ons ontvang met 'n glasie vrugtesap en ons op ons name gegroet!

Ons het gedink die bed was mooi versier! King size met satynlakens en roosblare en dinge. Met 'n Afrika tema op die beddegoed as 'n hartseer herinnering aan die feit dat ons binne 'n week vertrek na Amerika. Ons is bederf met 'n lekker bottel sjampanje in die kamer en kamerdiens vir aandete. Ons was teen daardie tyd natuurlik al so honger soos bere, siende dat ons nie eintlik tydens die troue geëet het nie.

Die volgende oggend het ons nuwe mense opgestaan. Daardie oggend 5:30 terwyl ons in die glasdeur gestaan het en uitgekyk het oor die rivier is 'n herinnering wat soveel wyer strek as die beeld op hierdie foto.

The Getaway Guesthouse
Siende dat ons eintlik armgat studente is, het ons die res van die week in hierdie gastehuis in Amanzimtoti oorgebly. Die huis is 'n drieverdieping gebou wat oor die see uitkyk (sien die uitsigte later). Ons het 'n kamer op die onderste verdieping gehad, met die res van die huis so te sê leeg. Ons kamervenster het 'n lieflike uitsig oor die see gehad, alhoewel ons veel eerder buitekant gaan sit het om dit te waardeer!

Uitsig na die Suide
Mens kon 'n goeie ent langs die strand af sien, tot waar die kus draai rondom Winklespruit. Die hoofstrand van Amanzimtoti lê net daar by die rotse wat uitsteek soos 'n vegskip in die nuwe Star Wars fliek. Die hoë woonstelgeboue van Amanzimtoti na die suide en Durban na die noorde het gesorg vir lieflike aande op die platform-dak (deck) van die huis.

Die uitsig na die Oostekant
Die uistig na die ooste is baie opwindend gemaak deur die eerste objek wat jou oë getref het daardie rigting in: 'n lekker varswater swembad! Dan, met tye, sou daar 'n lid van die superbruingebrande surf's up dude coolio klub homself in die swembad bevind het, soos duidelik op hierdie foto getoon word. :) Die swart spikkel bo die horison na regs sal vir ewig 'n misterie bly. Is it a bird? Is it a boat? Man WHAT is that!?

Uitsig na die Noordekant
Na die noorde kon mens nou nie heeltemal tot by Richard's Bay sien nie, maar nietemin was dit 'n goeie uitsig! Soos ek al vroeër genoem het, vanaf die dak van die gastehuis kon mens egter veel verder sien.

Marésa en die Gastehuis
Die mooi dame op die voorgrond is my vrou.
Die huis daar doer bo is die gastehuis.
Tussen-in lê die groen, die sand en die gewelf wat deel uitmaak van ons ongelooflike vaderland.

Sonsopkoms, 4:45vm
Daar is soveel ongelooflike herinneringe van daardie tyd wat mens nooit wil vergeet of toelaat dat dit verdof nie. Hierdie foto wys so 'n oomblik.
Ons is almal altyd verstom met die geboorte van 'n nuwe dag. Daar is iets besonders in daardie tydgleufie vandat die son oor die horison breek totdat jy besef dat dit nou werklik dag is. By die see is dit soveel meer. Die rooi en goud dans letterlik deur die klanke van die golwe tot binne in jou hart. Wanneer die son sy lang goue arm oor die see na jou uitstrek en jy daarop wil hardloop in die skyn in soos 'n kind met nuwe tekkies.
Maar daardie oggend wou ons nêrens heen gaan nie. Daar was 'n ongelooflike rustigheid en sekerheid in ons harte terwyl ons oor die see gestaar het. Dit was perfek. Dit sal altyd wees deur die krag van God.

Vroeg in die more
Wel, mens kan ook nie van almal verwag om op hul heel beste te lyk so vroeg in die more nie! Hier het Marésa vir Jan GROOTLIKS onkant gevang. Gelukkig was die lig nie honderd persent om die totale skok en deurmekaargeit te verklap nie!

Njammies Ontbyt
Ons het in die oggende super-vroeg opgestaan vir oggendpret in die see. Nog nooit in my lewe het ek so lekker in die see geswem soos daardie oggende saam met Marésa nie. Nog nooit in my lewe het ek so lekker in die see geswem soos daardie oggende saam met Jan nie. Met die breek van elke nuwe dag het ons gespeel, gelag en gejubel oor die wonder van die nuwe eenheid waarin God ons gesmee het. Die ontbyt wat ons geniet nadat ons teruggekom het van dit af was elke dag 'n fees. Nie net omdat dit 'n ongelooflike ontbyt was nie, maar omdat ons so gereed daarvoor was! As mens so rukkie met die see gestoei het raak jou maag honger (is dit nou nie 'n intellegente observasie nie?).

Ernstige Foto!
Right hier kom dit, vanoggend was dit meusli met joghurt, of ander cereals waarin ons nie eintlik belang gestel het nie, vrugteslaaitjies, lemoensappies en koffie, toast en eier-omelet! Vatso man!

Red Bull gives you wiiings...
Die son en see en nimmereindige pret raak soms so bietjie baie vir 'n man. Jan het een oggend wakker geword met 'n "uuuhhh" gevoel in hom. Ons het besluit om hom 'n goeie dosis Red Bull in te gee, met die hoop dat dit hom nuwe moed en krag sou gee! Gmpf, niemand het ons gesê dat Red Bull se wings jou so 'n lekker nap kan laat vang nie! Jan het egter 'n waardige poging daar aangewend om sy vlerkies te klap...

Mid Trap Balans Gemors
Somtyds dan kyk mens na 'n foto en wonder jy by jouself: "Presies HOEKOM het ek nou weer hierdie foto geneem!?", maar al wat mens dan doen is vra vir Marésa, sy sal jou verseker kan sê dat "Ja ons het hierdie een geneem sodat ons kan onthou hoe het die ingang gelyk". Dan kom alles terug en maak dit weer mooi sin. Snaaks, dis nogals met baie goeters so.

Die huurmotortjie
Dis die oulike karretjie wat ons gehuur het vir ons tydjie. Hy het egter een groot tekortkoming gehad wat hy seker ook nie kon help nie: hy't nie aircon gehad nie! Dit was egter pret om die wêreld rond te karjakker met die vensters wawyd oop en al skreeuend met mekaar te gesels!

Sandpret
Niks so goed soos 'n ou bietjie kompetisie nie! Hier spring Marésa tot daar annirkant innie sand.

Karplakselboude
Jan, aan die ander kant, was nog nooit bekend vir sy besonderse atletiese vermoëns nie. Hier het hy egter homself te buite gegaan en 'n meestersprong gemaak. (Net so vir die rekord, hy het darem daai kompetisie gewen :)).

Natuurspiere
Daar is min dinge wat die brute krag en almagtigheid van God ten toon stel soos 'n donderstorm in Afrika. Daar is min dinge wat mens soveel mis soos daardie einste storms sodra jou dae daardie einste verbysterende tentoonstelling van kleur en klank en die storting van nuwe lewe oor die aarde ontbreek. Die donderstorms wat die Amerikaanse natuur hier oplewer kom nooit verder as 'n gerommel in die verte nie. Daardie middag kon Jan nie weerstaan om die groottotaal van sy spiere ten toon te stel in vergelyking met die muscle van die natuur nie.

Marésa en die see
Ons het kilometers en kilometers gery agter 'n strand met rotse aan. Uiteindelik het ons hier uitgekom by 'n strand langsaan St. Micheals. Die wind het so bietjie gestoot daardie dag wat ons die golwe mooi oor die rotse laat breek het.

Rotsgolwe
Yithi omanqoba!! Esanqoba lonki'zwe!!! We are the conquerers! We have conquered the world!!
Bietjie windgat, maar dit is die Zulu sinnetjie wat Jan geleer het om terug te neem na die joe es van ei. Dit het net reg gevoel om dit te skreeu op daardie rotse.

Laaste aand se marshmallow braai
Die laaste aand het ons 'n piepklein koolvuurtjie op die strand gemaak en marshmallows gebraai onder die Suid Afrikaanse sterrehemel. Dit sou die laaste in 'n baie baie lang tyd wees wat ons die sterre vanuit die Suidelike Halfrond sien.
Ons het lank op die strand gelê en gesels oor die tyd wat ons gehad het by die see. Oor die opwindende toekoms wat daar vir ons wag, oor die nuwe lewe wat elkeen van ons nou saam gaan bou.
Ons het 'n ster gekies wat ons eie sou wees, maar sedert ons hier is kon ons hom nog nie weer kry nie. Kort voor lank sal ons weer teruggaan na die Suidkus van Suid-Afrika. Dan sal ons met ons rûe plat in die sand lê en opkyk na 'n bekende sterrehemel. Dan sal ons weer ons ster vind en dit sal in ons harte sing dat ons werklik tuis is.