Jan & Marésa Boshoff
1/4/2004

Sjoe die tyd vlieg damma. Wel, 'n baie geseënde kersfees vir elkeen van julle en mag God julle harte vul in 2004! Ons wil graag ons 2003 nuusbrief met julle deel, siende dat die posstelsel dit heel waarskynlik nog nie by jou uitgebring het nie!

Hallo liewe vriende en familie!

2003 was vir ons ‘n onvergeetlike jaar van opwindende afwagting! In September het die Here se rykste seën in bruisende oorweldiging ons lewens oorstroom toe daar die 25ste om 6:48vm vir ons ‘n pragtige, gesonde seun gebore is! Die swangerskap en geboorte het seepglad verloop, en was soveel meer in elke opsig as wat ons ooit sou verwag of droom. God het elke versoek wat ons in gebed en smeking met danksegging aan Hom gerig het, hartelik toegestaan en oneindig meer as wat ons kon bid of dink gedoen! (Baie meer oor Duvan op duvan.boshoff.za.net).

Ons het die jaar weer afgeskop met 'n romantiese viering van ons huweliksherdenking, dié slag in die berge van Vermont. Die sneeu het tot ons heupe diep gelê, wat gesorg het vir eindelose pret op die snowboards! Dit is ook hierdie einste naweek wat ons begin vermoed het van die groot verassing wat ons 9 maande later sou ontmoet!

Omstandighede rondom Marésa se visa het ons nie toegelaat om SA te besoek nie, maar ons kon die 2 weke begin April gebruik vir ‘n heerlike vakansie in Suidelike Kalifornië. Dit was ‘n 3,400km roete waarin ons ‘n blik kon kry op die onskatbare natuurlike erfenis waaroor hierdie land beskik. Hoogtepunte sluit in Joshua Tree National Park (NP), Death Valley NP, Giant Sequioa NP en Yosemite NP, diverse natuurskoon wat al langs die Sierra Nevada bergreeks lê. Ons is totaal verras met sneeu oor die berge, wat gesorg het vir laaste minuut 500km ompaaie, koue aande in die kar, asook die vakansie se onvergeetlike hoogtepunt. Die 10cm vars sneeu het die reusagtige Seqouia woud in absolute stilte bedek en ‘n grens gestel vir die res van die samelewing, sodat ons siel-alleen die sprokieswoud kon verken. Die stilte en 800+ jaar oue bome wat hardnekkig bly lewe ten spyte van honderde seisoene se droogte, woudbrande, plae en ander teëstand het ons herinner aan die lewe wat God in Marésa vorm gegee het ten spyte van ons hartseer en verlies in 2002. Ons vakansie is afgesluit met 2 opwindende dae in San Francisco en ‘n kronkelende 6 uur rit langs die asemrowende Big Sur kuslyn tot in Los Angeles.

Marésa is verras vir haar verjaardag met ‘n 2 dag wegbreek na die Shenandoah vallei in Virginia, waar ons die eerste keer swart bere in die wild in Amerika gesien het, en ons kon blitsbesoekies aan Princeton, New Jersey en New York City vir die US Open tennis toernooi inpas in ons laaste maand as ‘n gesin van twee.
Is ons ook geseën met twee blitsbesoekies van baie goeie vriende uit Suid-Afrika! Leon het in Maart vir ‘n paar daggies hier omgekom en ons het New York City en Washington DC saam gesien. Einde Oktober het Schalk en Jana vir ‘n week kom kuier. Ons het die geleentheid gehad om vir Schalk te leer ken en hulle vir Duvan! Ons het so lekker gekuier en het saam Washington DC gaan besoek.

Jan se jaar hou groot mylpale in. Die grootste sekerlik die feit dat hy sy PhD die 19de Desember suksesvol “defend” het. Dit bring Jan nou (uiteindelik) tot die einde van sy akademiese loopbaan (vir eers). Jan is ook dankbaar teenoor die Here vir die geleentheid om ‘n klas vir die kerk se Bybelskool te help ontwikkel en aan te bied oor die briewe van Paulus, wat ‘n ongelooflike ervaring was waarin die Here hom soveel geleer het. Marésa is dankbaar vir die wonderlike ervaring wat sy opgedoen het as apteker in die VSA, maar is baie opgewonde oor die nuwe seisoen in ons lewe. 2003 het ‘n enkele seisoen vir haar ingehou; lente: nuwe lewe en kleur en lag en opgewondenheid. Sy is so dankbaar vir die swangerskap, wat haar op haar mooiste laat voel het, en wat haar daagliks laat borrel het as sy herinner is aan die klein lewetjie binne haar. Voltyds Mamma wees hou vir haar oneindige bevrediging in.

Ons staan op die vooraand van ‘n baie opwindende 2004 in Suid-Afrika en ons voel skrikkerig vir die aanpassing om weer terug te wees, so ons sal waardeer as julle vir ons sal bid! Daar is egter soveel waaroor ons dankbaar is in hierdie tyd in die VSA, waar ons soveel van onsself geleer het en waar die fondasie vir ons huwelik gelê is. Hierdie land het ons geleer om mense lief te hê vir wie hulle is, om die beste in onsself en ander mense te sien en om uit te reik oor die grense van kultuur en agtergrond. Ons gebed vir 2004 is dat ons die karakterontwikkeling wat ons hier ondergaan het standvastig en met trots sal dra, ten spyte van die feit dat ons terugtrek in die oud-bekende in. Ons bid God’s rykste seen in 2004 op elkeen van julle! Mag hierdie komende jaar een van nuwe lewe en opwinding vir julle wees. Baie lief vir julle!

Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas."

~ Psalm 139:9-10 ~



Ander nuus is dat daar 'n groot verandering of twee aan die Boshoff blad kom. Vir een, siende dat ons terugkeer SA toe (en julle ons teoreties gesproke meer gaan sien - alhoewel, te mete aan the hoeveelheid e-mail wat ons kry het ons nie eintlik baie hoop nie ;)) is die teikengehoor van die site nou ietwat anders. Ons sal dus oorskakel Engels toe. Sjap sjoet. Jan sien uit daarna om die website weer bietjie op datum te bring (daar is baie om te vertel). So... hou hierdie spasie dop. As hier nog niks gebeur het nie, daar is altyd nuwe dinge aan't gebeure by Duvan se blog.


11/20/2003

Wel, ons het 'n fantastiese tyd met Schalk en Jana gehad! Ons werk aan die foto's opdateer.... Ja, ek weet, julle het dit al vantevore gehoor. Daar is egter baie wat aangaan hier op boshoff.za.net. Jy sal sien ons het 'n nuwe afdeling bygekry "Linux Log", vir die geeks. En dan is Duvan se blog natuurlik aan die brand van opdaterings.

Dis nou knorstyd vir Jan met die tesis - so nie meer lank nie dan is die PhD klaar (finally). Tot dan toe, moet tog maar nie vra, "So, is jy al klaar met jou tesis?" nie. Hoog ongewens.

Vir baie foto's van Duvan en sy Mamma en Pappa, gaan gerus oor na sy bladsy. Hier is 'n foto waar hy in Washington D.C. saam met sy Oom Schalk en Tannie Jana kuier.


10/13/2003

Yay!!! Ons gaan kuiermense kry! Jana & Schalk kom aan die einde van Oktober vir 'n week by ons kuier! Ons is SUPER opgewonde!


Nuus Argief...


:: joernaal

Sneeu, '02-'03

Kyk vrinne, daar's min dinge in die wêreld wat my en Marésa so verskriklik opgewonde maak soos sneeuvlokkies wat uit die lug wals. Hierdie seisoen is ongelooflik, want ons het al 'n stuk of twee na drie goeie sneeue gehad (elke slag so 15-20cm sneeu). Dit maak vir baie pret, en interessante foto's. Kom loer gerus.


Southwest Vakansie! 7-14 Aug 02

7 dae, 2700 km's, 9 asemrowende hoogtepunte van die Suidweste van Amerika. Ons het 'n ongelooflike vakansie agter die rug, 'n handjievol goue tyd wat Ernest Hemingway in 'n tydlose novel sou omsit, Vivaldi in 'n majestieuse simfonie.


Al die joernale...


:: gasteboek

Teken ons gasteboek! Hier kry jy die geleentheid om ons te laat weet jy was hier. Laat ons weet wat jy dink van ons webwerf, of skryf vir ons 'n gedig waarmee ons die voorblad kan tooi.



:: allerlei

Yskasverse

Yskasverse is friedsh pouetrie. Dis die magneetwoordjies wat jy rondskuif om uiting te gee aan onwillekeurige stuiptrekkinge van kreatiwiteit. Die grense wat slegs 'n aantal beskikbare woorde aan mens stel maak dat dit vet pret is.

Lees ons bundel...
Resepte

Karringmelk Beskuit - Hierdie resep dra ons op aan Ouma (Nie die boks-ouma nie). Ouma het nou maar eenmaal die allerlekkerste beskuite vir Marésa op universiteit gebak. Dit was altyd die beste om by Marésa te gaan koffie drink toe ons nog uitgegaan het - want sy't altyd 'n goeie voorraad van Ouma se gesondheidsbeskuit, of karringmelk beskuit, of watter beskuit ookal gehad!

Meer resepte...